NHS-Aanlyngebedsweek

NHS-Aanlyngebedsweek

Vir die afgelope vyf jaar het Corneels Schabort (senior lektor van NWU vir Chemiese en Mineraal Ingenieurswese) en sy opgeleide jeugwerkers NHS se leerders en personeel tydens die NHS-gebedsweek geestelik bedien.

As gevolg van die tydelike inperking sal hierdie gebedsweek op ‘n heel ander manier aangebied word. Ernst Pieterse en Tayla Kotzee (Portefeulje: Kultuur, Geestelik en Omgee) het die aanlyn gebedsweek saamgestel.

Die gebedsweek begin Sondag 26 April op Google Classroom. Leerders word aangemoedig om elke dag saam met hulle gesin in te skakel. Op hierdie platform sal ‘n kort boodskap deur Corneels Schabort saam met ‘n lofprysingsliedjie aangebied word.

Die week se tema is gebaseer op die Onse Vader-gebed (Matteus 6:9-13).

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.”

Mag u tydens hierdie gebedsweek geestelik verryk word en opnuut met geloof en hoop gevul word.