NHS-atletieksterre blink tussen die seniors in Germiston

NHS-atletieksterre blink tussen die seniors in Germiston

Een van Atletiek Suid-Afrika se internasionale Grand Prix-byeenkomste vir 2022, het op Woensdag 13 April in die Germiston-stadion plaasgevind – en Hoërskool Nelspruit was ook daar verteenwoordig! Twee van die skool se top-atlete, Ashley Erasmus en Handré vd Merwe, het as lede van die LowMed-klub op Nelspruit, deelgeneem.

Ashley Erasmus, vanjaar se SA-kampioen in gewigstoot en skyfwerp in die afdeling vir meisies 17, het haar eerste treë in senior geledere gegee, toe sy in beide worpe teen van die beste ‘tannies’ in die land, in aksie was. Ashley het getoon dat sy oor die ideale temperament van ‘n internasionale deelnemer beskik, toe sy haar geensins deur groot en bekende name van stryk laat bring het nie. In gewigstoot (hou in gedagte dat sy die hele jaar met die 3kg-gewig moes deelneem) het Ashley die oë laat rek, toe sy die swaarder (4kg) gewig op ‘n indrukwekkende 15,61m laat grondvat het, en daarmee ‘n puik tweedeplek verower het. Dié afstand verpletter haar eie 15,19m wat sy vroeër vanjaar op Secunda behaal het, en is ‘n afstand wat aan haar by verlede jaar se Wêreld-kampioenskappe in Kenia, ‘n bronsmedalje sou besorg het. In die proses, reken sy maklik af met vanjaar se onder 20- kampioen, Zonnika Lindeque, asook met Dané Roets, wat ons land al oorsee verteenwoordig het.

 

Nog was dit het einde niet! Met ‘n bestaande pb van 51,77m in skyfwerp, het Ashley voormalige SA-kampioene soos Yolande Stander (Vrystaat) en Riëtte Heyns (Noordwes), asook die bekende Khunou-susters van Pretoria, aangedurf. Van die RSA se bestes in skyfwerp, was net Miné de Klerk (tans in die VSA) en Ischke Senekal van die OP, nie in aksie nie. Stander (54,12m) en Heyns (50,80m) het eerste en tweede geëindig, en Ashley se 49,52m het ‘n sterk uitdaging van Alicia Khunou (48,72m) afgeweer, om aan die Nellie die derdeplek te besorg. Twee medaljes op ‘n prestige senior byeenkoms – welgedaan, Ashley!

Handré vd Merwe was aanvanklik geloot om aan die voorprogram deel te neem, maar word toe opgeskuif na die hoofprogram, om saam met die groot kanonne vir die 400m hekkies, in die blokke te sak. Weer eens het die Nelspruiter hom nie laat intimideer nie, en met ware Nellie-‘guts’, uitstekend gehardloop om in sy persoonlike beste tyd van 52.40 sek., ‘n welverdiende vyfdeplek (uit 7 deelnemers) los te hardloop. By ASA se nasionale juniorkampioenskappe van onlangs, het Handré silwer verower, in ‘n tyd van 52.82 sek. Hy het vanjaar gevat-vat aan Ruan Labuschgné se Nellie- rekord van 52.33, hopelik is daar nog ‘n geleentheid of twee vorentoe, om dalk die rekord syne te maak. Hy en sy afrigter, mnr. Jaco vd Merwe, het vanjaar werklik groot hoogtes bereik!

Nog ‘n Nelspruiter wat sy stem dik gemaak het, is die bekende senior spiesgooier en voormalige SA-kampioen, Philmar J. van Rensburg. Hy word ook deur mnr. DP Badenhorst afgerig, en het met ‘n jaarbeste van 75,49m ‘n derdeplek behaal. Dit is die vierde beste afstand tot dusver vanjaar in die land, wat daarop dui dat Philmar se visiere duidelik op nog ‘n medalje by volgende week se SA seniorkampioenskappe in Kaapstad, gerig is. Waldo Smit (79,74m), Johan Grobler (78,76m) en Rocco van Rooyen (77,34m) is die manne wat geklop moet word.

Nog ‘n uitslag met ‘n Laeveld-verband, is die 47.92 sek. wat oud-Nellie, Leon Pienaar, in een van die 400m-wedlope aangeteken het.