10 Feb NHS groet geliefde adjunkhoof en eertydse koshuisvader
“Kollegas, dankie vir ‘n wonderlike 17-jaar wat ons hier by NHS gehad het. Dit was vir ons ‘n voorreg!” Menige trane het gevloei toe mnr. Willie van der Merwe, adjunkhoof van akademie, sy kollegas gegroet het. Mnr. Willie was ‘n toegewyde Nellie en ‘n leier by uitnemendheid. Sy kollegas het sy eerlikheid, pretensieloosheid en omgee hoog aangeslaan.
Mnr. Willie van der Merwe groet die Laeveld en gaan hom nou in Potchestroom vestig waar hy die leisels as die nuwe skoolhoof van Potchefstroom Gimnasium gaan oorneem. NHS se verlies is vir Gimmies ‘n groot wins!
As akademikus by uitstek, het hy sy passie in sy vakgebied uitgeleef. In die klaskamer sal hy beslis onthou word vir sy insig en briljante toepassing en verduideliking van Fisiese Wetenskappe. Oral waar hy gegaan het, het hy ‘n groot verskil gemaak. Mnr Willie was ook deel van die winterskoolprojek vir graad 12’s wat in samewerking met SACTWU in 2017 afgeskop het. Die fokus van hierdie winterskool was op die finale voorbereiding, met die oog op rekord- en eindeksamens gerig. Met hierdie inisiatief het NHS uitgereik in die onderwysgebied om ‘n verskil in leerders se lewens te maak. Willie het hierdie projek gedryf – selfs gedurende die pandemie.
Sy betrokkenheid by die skool het baie verder as die klaskamer gestrek. Op sy stil bedaarde manier kon hy as jarelange matriekvoog wonders met leerlinge regkry.
Hy was ook vanaf 2006-2015 die senior koshuisvader by Huis Hermann Davin. Hier het hy die trotse tradisies van die seunskoshuis laat voortleef en die Bulle van integriteit en respek geleer.
Die netjiese skool- en sportterrein wat die skool se trots is, is ook deur mnr. Van der Merwe bestuur.
Met ‘n groot glimlag en kalm geaardheid het hy altyd reggestaan om ouers, leerders en personeel te dien.
Die skool groet ook vir me. Zandra van der Merwe. Sy laat ‘n groot leemte by die skool. Me Van der Merwe was verantwoordelik vir al die dataverwerking van die skool. Sy was ook hard aan die werk agter die skerms by die revue. Sy het jaarliks die groot taak van verhoogbestuur en kostumering behartig. Haar kantoor was vir al die personeel ‘n gasvrye toevlugsoord.
“Ek het baie by u geleer en dankie dat ons saam baie nuwe aspekte in die skool se bestaan kon ontdek. Dankie vir die lekker lag en die gemaklike atmosfeer in die personeelkamer. Mag God julle ryklik seën op julle pad vorentoe. Ek salueer julle!”
Meneer Willie, NHS salueer u as waardige palmtakdraer! Palmam Qui Meruit Ferat.