NHS Juniors kraai koning by ATKV-Debat

NHS Juniors kraai koning by ATKV-Debat

Tien debatspanne van Hoërskool Nelspruit het op 3 Mei by Hoërskool Genraal Hertzog in Witbank aan die eerste ronde  van die ATKV Debatkompetisie vir hoërskole deelgeneem. Sewe van die tien NHS-spanne het deurgedring na die semifinaal van die kompetisie. Slegs vyf  spanne van die agtien deelnemende junior spanne kon deurdring na die semifinaal en al vyf hierdie spanne is uit NHS geledere.

Die juniors moes debatteer oor die sloping van alle uitheemse bome in Suid-Afrika al dan nie.  Die graad 9’s wat lede van die onderskeie spanne wat deurgedring het na die volgende ronde is: Conrad Joubert, Paul Harley, Wikus van Biljon, Tiaan Bronkhorst, Adrienne Combrink, Megan Bester, Anke Oelofse, Ilze Geldenhuys, Enye van Tonder, Katrien Hiemstra, Lana Bezuidenhout en Liza Buys.  Hulle afrigters is mnr. Koos Barnhoorn, mev. Magda van der Merwe, mev. Elsa Harley en mej.Aniska Breedt.  Die graad 8 span wat afgerig is deur advokaat Maritza Uys is Ziné Maree, Cornelis van Dyk en Niandi Coetzee.

Twee NHS senior spanne met Danté van der Westhuizen en Ernst Pieterse (graad 11) en Erika le Roux en Teneil Le Roux (graad 10) is onder die vyf spanne van hierdie streek wat  deurgedring het na die semifinaal.  Die graad 11-span is afgerig deur mnr. Theo van der Westhuizen en die graad 10-span deur mnr. Koos Barnhoorn.  Die onderwerp vir die seniors wat inleidend gepraat het, was dat Suid-Afrika sy kulturele erfenis behoort te verwyder om nasiebou te bevorder en die opponente moes die teendeel bewys.

Die Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal ronde vind plaas op 1 Junie te Witbank.  Tydens dié semifinaal  word drie spanne in die senior en junior afdelings gekies om aan die gesogte landsfinaal op 3 Augustus te Goudini deel te neem.