NHS Matrikulante hou betowerende afskeid

NHS Matrikulante hou betowerende afskeid

Vanjaar se matriekafskeid was ‘n asemrowende glansgeleentheid wat almal betower het met liggies en buitengewone versierings.

Me. Bessie Breytenbach (organiseerder) en die Graad 11-ouerkomitee het 2022 se matriekafskeid spesiaal en onvergeetlik gemaak. Die betowerende Toorbos het Saterdag 30 Julie by Kavinga net buite Nelspruit afgespeel. Die tafels was elegant met pragtige groenighede gedek en die saal was met duisende liggies en kerse versier. Daar was ook ‘n groot dansbaan buite die saal wat beslis in die tieners se smaak geval het.

Tydens die aankoms het ‘n verskeidenheid spoggerige motors van klassiek tot splinternuut hulle kosbare vrag afgelewer. Die seuns was uitgevat in deftige pakke en die meisies in pragrokke opgetof. Hierdie jaar was groen definitief ‘n modeneiging!

Na afloop van die aankoms by die skool is die leerders met busse na Kavinga geneem waar die betowering in volle swang begin het.

Die matrikulante is oor ‘n magiese houtbrug met ‘n magdom oorkoepelende liggies in die saal  verwelkom. Gedurende die aand het die klas van 2022 saam gekuier, gedans en geskaterlag. Dit was beslis die regte geleentheid om menswees en jonkwees asook die afsluiting van hul skoolloopbaan te vier.

Hoërskool Nelspruit bedank graag die volgende borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het:
ACDC
Kwanyoni
Bundu Pale
BUCO
4-Keepsake
Rooikat Wholesalers

Foto’s: Mamarazzi Photography