NHS Netbalster skitter tydens toernooi

NHS Netbalster skitter tydens toernooi

Juffrou Maryke Coetzee het vanaf 5-12 September die klaskamer verruil vir die netbalbaan. Me. Coetzee het die provinsiale span, die Mpumalanga Sunbirds, verteenwoordig by die eerste been van die Telkom Netballiga.

Me. Coetzee is geen vreemdeling by die Telkom Netballiga nie. Sy het vir die agtste keer hierdie jaar op die baan uitgedraf.

“Vanaf 2014 tot 2016 het ek vir die Vrystaat gespeel. Ons het drie jaar in ‘n ry die toernooi gewen. Dit was definitief ‘n hoogtepunt vir my!”

Die afgelope twee jaar is die toernooi volgens die Covid-19 regulasies vir die veiligheid van die spelers aangepas. Verlede jaar is die toernooi in ‘n bio-borrel aangebied. Dit het nuwe eise aan die spelers gestel en dit was ‘n groot aanpassing. Hierdie jaar is daar besluit om die toernooi oor twee sessies aan te bied. Terwyl die spelers deelneem het hulle in ‘n bio-borrel verkeer.

Ter voorbereiding vir hierdie jaar se toernooi het me. Coetzee ‘n nuwe oefenprogram gevolg en gereeld seker gemaak dat die oefeninge uitdagend genoeg is om haar gemotiveerd te hou.

As kaptein van die Sunbirds het sy ook die span positief gehou. “Elke dag werk jy maar met ‘n nuwe strategie. Dit is ook die span wat mekaar motiveer en mekaar se gees lig.”

Die Sunbirds het gedurende hierdie eerste been van die toernooi mekaar se spel goed leer ken en hoop om weer te begin waar hulle geëindig het. Die mikpunt is om in die semifinaal te kan speel.

Me. Coetzee se advies aan jong aspirant netbalspelers is om hard te oefen. “As jy ‘n droom het, jaag dit na! Met harde werk en determinasie kan jy enigiets bereik!”

Die Telkom Netballiga word op SuperSport uitgesaai . Ons sien daarna uit om me. Coetzee weer in aksie te sien.

Foto’s: Netbal Suid-Afrika Facebook

Tags:
, ,