NHS o/16A-span deur na Virsekerbeker-finaal

NHS o/16A-span deur na Virsekerbeker-finaal

Die afgelope naweek het die o/14A en die o/16A rugbyspanne deelgeneem aan die Virsekerbeker semifinaal by Hoërskool Montana. Die o/14-span het vasgeval teen Hoërskool Marais Viljoen met 31-0, maar die o/16’s het Rustenburg 20-14 gewen. Dit was die skitterende skopwerk van Christiaan Gates wat die punte op die telbord aangebring het.

Die puik verdediging van Ruben Grundling en Henno de Beer saam met die taktiese spel van die span het ten einde NHS laat koning kraai.
“Dit was ‘n baie fisiese wedstryd, die seuns het mooi gedink en goeie rugby gespeel!” sê mnr. Chris Mans, afrigter van die span.
Die span speel hierdie komende Saterdag, 17 Augustus teen Zwartkop in die finaal by Hoërskool Marais Viljoen. Die spanne het al op twee geleenthede teen mekaar te staan gekom met ‘n oorwinning vir elk. Die kragmeting gaan beslis vele rugbyaksie inhou vir die toeskouers. Mnr. Mans en die span hoop om hierdie seisoen op ‘n hoë noot af te sluit.