NHS se Ashley die groot uitblinker by 2021 se Twizza-byeenkoms

NHS se Ashley die groot uitblinker by 2021 se Twizza-byeenkoms

Met die ongelooflik talentvolle Ashley Erasmus aan die spits, het NHS se atletiekspan wat op Woensdag 29 September in die Ruimsig-stadion te Roodepoort deelgeneem het, bewys dat Mpumalanga se top-atletiekskool in geen geselskap onderskat moet word nie. Die noordelike been van hierdie jaarlikse soeke na die RSA se sterkste hoërskool op atletiekgebied, het 38 inskrywings vanoor die lengte en breedte van die ou Transvaal gelok. Daar is slegs in die ouderdomsgroepe 15, 17 en 19 meegeding. Benewens NHS, het net HTS Middelburg (25ste) en Curro Nelspruit (30ste) kans gesien om die bestes uit Gauteng, Noordwes en Limpopo aan te vat. ‘n Soortgelyk byeenkoms vind die naweek in die Wes-Kaap plaas, waar die room van die provinsies suid van die Vaalrivier, in aksie sal wees.

Die deelnemende skole se atlete verdien beslis lof vir die uitmuntende prestasies wat te midde van ‘n lastige wind, verkorte program a.g.v. swaar weer, asook al die Covid-regulasies wat nagekom moes word, gelewer is.

Hoërskool Nelspruit (30360 punte) slaag uiteindelik daarin om ‘n top 10 posisie op Roodepoort te behaal, en reken in die proses af met gedugte teenstanders soos Kemptonpark (30240), Randburg (30000), Garsfontein (29460), Dr. Malan (29260) en Marais Viljoen (29120). Die boonste drie plekke is ingeneem deur Menlopark (35440), Prestige College (34880) en Helpmekaar (32400).

Na hierdie prestige- byeenkoms, lyk die IAAF se internasionale ranglys vir gewigstoot, meisies 17, soos volg (eerste drie plekke): 1. Nina Ndubuisi (Duitsland) 18,59m 2. Zonica Lindeque (RSA) 18,18m  3. Ashley Erasmus (RSA) 17,85m. Wat ‘n fenomenale prestasie is dit nie vir Ashley, NHS, Mbombela en die hele Laeveld nie! In Woensdag se kompetisie verbeter Ashley haar eie Nellie-rekord van 16,73m met ‘n volle 1,12m.Sy verwerf ook ‘n voltal van 1,000 punte op die ASA-tabel, en is op 16-jarige ouderdom reeds die beste meisie-veldatleet in worpe, wat die Laeveld nog ooit opgelewer het. Met Zonika se afstand wat nog op amptelike erkenning wag, het Ashley ook verder as die bestaande nasionale beste afstand gestoot en is dan ook die nie-amptelike houer van die rekord. Sy het verder met haar tweedeplek in skyfwerp (45,13m), vir nog ‘n nuwe huishoudelike rekord gesorg, en nog 970 punte tot die span se groottotaal bygevoeg. Die vorige beste was 43,51m (is ook deur haar gehou).

Rhodé Nel (meisies 19) het met twee tweedeplekke in naellope, ook waardevolle punte vir NHS ingeoes. Haar tye was 12.19 (100m, 864) en 25.26 (200m, 859). As dit nie vir ‘n ontoelaatbare sterk wind van 3.4 m per sek. van agter was nie, sou Rhodé met Marilise Weich se stokoue 1979-rekord van 12.20 in die 100m, klaargespeel het. Dat sy dit wel in die nabye toekoms gaan vermag, blyk D.V. na ‘n uitgemaakte saak.

Spesiale vermelding moet gewis van Marko Mathee (seuns 15) se pragafstand van 6,43m (856 punte) in verspring, gemaak word. Dit beloof groot dinge, en Marko kan duidelik in die voetspore van gewese NHS-sterre in verspring soos Francois Coetzee en Jacques Malan, volg.

Baie geluk aan al die ander atlete wat ook met blink vertonings van meer as 750 punte op die tabel, vorendag gekom het:
Tanya Pieterse (m.15): 200m – 26.12 (851)
Kiara Craven (m.15): 90m hekkies – 15.40 (763)
Anushka Botma (m.15): 100m – 13.38 (756)
Shanré Ehlers (m.15): 32,04m (803)
Sheba Sithole (m.15): 800m – 2:24.32 (823)
Anja Venter (m.17): gewigstoot – 11,53m (800), en skyfwerp – 35,59m (829)
Zané Potgieter (m.17): 100m – 13.07 (770), en 200m – 27.13 (770)
Kristen Berry (m.17): 800m – 2:27.21 (781)
Jolanke van Zyl (m.17): spiesgooi – 37,18m (761)
La-Alizia Venter (m.19): gewigstoot – 10,90m (816)
Larisa Grobler (m.19): gewigstoot – 10,73m (809)
Ruan de Beer (s.15): 100m hekkies – 14.50 (777)
Vaughn van Zyl (s.15): gewigstoot – 14,23m (803), en skyfwerp – 49,13m (829)
Divan de Kock (s.15): skyfwerp – 43,79m (761)
Marco Capazorio (s.17): 400m – 51.87 (764)
Handré vd Merwe (s.17): 400m hekkies – 55.30 (799), en 100m – 11.25 (756)
Ruben Vorster (s.17): 110m hekkies – 15.68 (751)
Alexandré Viljoen (s.17): 400m – 51.40 (779)

Nog ‘n paar uitslae wat die oog gevang het:
Hannes Botha (s.17): spiesgooi – 54,24m
André van Schalkwyk (s.17): 800m – 2:03.17
Ian Wood (s.15): 200m – 23.81
Ruan de Beer (s.15): 300m hekkies – 44.94
Karl Erichsen (s.17): skyfwerp – 37,26m
Juané le Roux (m.15): skyfwerp – 28,36m
Sheba Sithole (m.15): 1500m – 5:09.75
Zané du Toit (m.15): verspring – 4,76m
Larisa Grobler (m.19): 200m – 27.51

 

Artikel: Mnr. Kobus de Wet
Foto’s: Tobias Ginsberg (Facebook)