NHS se Ashley nr.1 internasionaal – in beide gewigstoot en skyfwerp!

NHS se Ashley nr.1 internasionaal – in beide gewigstoot en skyfwerp!

Bykans vyftig skole het spanne vir vanjaar se prestigeryke Noordheuwel Top 15 byeenkoms inge-skryf. Ondanks gure weer is wêreldklas vertonings deur van ons land se allerbeste skole-atlete opgedis – en Hoërskool Nelspruit se Ashley Erasmus (meisies 19) se naam skitter heel bo aan die lys uitblinkers!

In die noordelike halfrond, is binnenshuise byeenkomste tans aan die orde van die dag, met gewigstoot een van die beperkte ‘velditems’ wat aangebied kan word. Na Woensdag se Krugersdorp-byeenkoms, pryk Ashley se naam bo-aan die wêreldlys! Haar ongelooflike 16,97m het haar eie huishoudelike (Nellie-) rekord van 16,33m verpletter, en was dan ook ‘n nuwe byeenkomsrekord vir Noordheuwel. Naas Ashley se 16,97m, is Duitsland se Nina Ndubisi (16,89m) en Tjeggië se Katrin Brzyszkowska (16,62m) tot dusver die beste vanjaar. Wat 2022 se ranglys betref, sou hierdie afstand Ashley in posisie nr.3 geplaas het, na RSA se Miné de Klerk (17,19m) en Ndubisi se 17,01m. Haar pragstoot van 16,97m, sou verder ook ‘n silwer medalje by die wêreldkampioenskappe in Kolombië beteken het! Met haar puik gooi van 51,90m in skyfwerp, beklee Ashley eweneens die top-posisie internasionaal, met Nieu-Zeeland se Natalia Rankin-Chitar (51,79m) en die Aussie Ashlyn Black-stock (51,64m) in die daaropvolgende posisies. Ashley het verlede jaar as onder 17-atleet ‘n afstand van 53,32m behaal, maar haar wengooi van 51,90m is ‘n nuwe onder 19-rekord vir NHS, en was nog ‘n nuwe byeenkomsrekord op Krugersdorp. Sy het dan ook haar ‘gewone’ 1000 punte (maal twee) tot die spantotaal bygedra – ‘n prestasie waarmee sy haar ondersteuners al ‘n paar keer bederf het. Menlopark se Alicia Khunou (m.17) het hierdie keer dieselfde vermag, toe sy haar worpe met uitstekende afstande van 17,01m (gewig) en 49,60m (skyf) gewen het.

NHS se ‘volgende Ashley’, die onder 15-atleet Zané Nel, het ook haar gereelde, uitstekende bydraes tot NHS se spantotaal gelewer. Haar blink afstande van 13,38m (gewigstoot – 898 punte) en 35,17m (skyfwerp – 854) , het weer eens haar opvallende worpe-talent onderstreep.

Nog twee Nellies wat met uithaler-vertonings goud verower het, is Zoë Cilliers en Lana Theron. Zoë wen die 100m vir meisies 15 in ‘n goeie 12.67 sekondes (846), terwyl Lana se 26.27 (m.14 – 854) goed genoeg was om vir al die ander deelnemers hakskene te wys.

‘n Indrukwekkende vertoning wat beslis vermeld moet word, is die wyse waarop Kian Mouton (s.19) in ‘n uiters kompeterende 800m-wedloop, by die voorlopers gebly het om met ‘n stewige tyd van 1:55,32 brons te verower. Gegewe die uitdagende toestande, was hierdie prestasie voorwaar iets om baie trots op te wees! Sy 1500m-tyd van 4:16.08 toon ook groot belofte.

Baie geluk aan nog ‘n paar Nellies wat met stewige vertonings gewys het dat hulle sterk medalje-aanspraakmakers by vanjaar se interhoër gaan wees:

Sheba Sithole (m.16): 800m – 2:21.38 (847); en 3000m – 11:05.02 (845)
Simoné Lourens (m.15): 90m hekkies – 14.81 (802); en 300m hekkies – 46.19 (854)
Livy Owen (m.19): 100m hekkies – 16.89 (723); ook 400m hekkies – 70.19 (780)
Juané le Roux (m.16): gewigstoot – 9,93m (741); en skyfwerp – 31,32m (775)
Divan de Kock (s.16): gewigstoot – 14,91m (815)
Menzi Shiba (s.15): 100m hekkies – 14.32 (793); en verspring – 6,20m (783, 2e plek)
David Botha (s.17): spiesgooi – 55,62m (733)
Les Liebenberg (s.14): gewigstoot – 12,42m (721)