NHS se atlete lewer baie goeie prestasies by ASA-kampioenskappe

NHS se atlete lewer baie goeie prestasies by ASA-kampioenskappe

Diegene wat die 2024-weergawe van ASA se jaarlikse nasionale junior- en onder 23-kampioenskappe gevolg het, sal saamstem dat dit sekerlik, wat uitstaande vertonings betref, die beste in baie jare was. Die vinnige baan van die Pildtich-stadion in Pretoria, het die naweek van 21-23 Maart ‘n hele klomp nuwe SA-rekords tot gevolg gehad, en tientalle atlete van regoor die land, het met nuwe pb’s huiswaarts gekeer.

David Botha het weer in spiesgooi (m.20) uitgeblink, toe hy met ‘n mooi afstand van 59,92m net-net nie ‘n podiumplek kon haal nie. Om die vierde beste spiesgooier in sy ouderdomsgroep in die hele RSA te wees, is nietemin ‘n prestasie om op baie trots te wees!

Zoë Cilliers is vanjaar nog maar 16, maar moes in die afdeling vir meisies 18 haar slag toon. Sy het pragtig genael, en haar tye van 12.08 (100m) en 24.91 (200m) was beide ‘n uitstekende 911 punte op die ASA-tabel werd. Zoë eindig vyfde in die 200m-finaal, nadat sy met ‘n blink 24.90 in die semifinaal, vir die eindronde gekwalifiseer het.

Anele Mkhonto (s.18) sal SA’s 2024 ook nie gou vergeet nie! Hy kom tweede in sy uitdun van die 800m (1:57.04), en hardloop bykans twee sekondes vinniger in die eindronde, om die wedloop in ‘n haastige 1:55.62 (827 punte) te voltooi. Die feit dat hy slegs sewende kon eindig, dui duidelik hoe sterk die kompetisie was.

Die jong Leney Maree, vanjaar nog m.14 en in graad agt, het met onderskeiding haarself in die 3000m vir meisies 15, laat geld. Sy hardloop ‘n negende plek los (uit 22 deelnemers) en verpletter haar eie Nellie-rekord vir meisies 14, wat op 10:59.86 gestaan het, met ‘n indrukwekkende nuwe rekordtyd van 10:43.52 (880). Baie geluk, Leney!

Elizma de Villiers (m.18) het in die uitdunne van die hoogspring-item, saam met nog 12 ander meisies op 1,61m geslaag, en daarna nog ‘n negende plek verower, deur in die finaal op 1,60m oor die dwarslat te seil.

Langasem Sheba Sithole (m.18) het oudergewoonte vir ‘n mooi uitslag gesorg, toe sy die 3000m in ‘n persoonlike beste tyd van 10:39.73 voltooi het. Al kon Sheba net in die twaalfde plek eindig, het sy die Nellies trots gemaak met die wyse waarop sy enduit haar beste gelewer het. Die goeie ASA-punt van 871 is welverdiend.

Nog ‘n graad agt meisie wat ‘n blink atletiek-toekoms tegemoet gaan, is Chenade Botma. Sy het in beide naellope vir meisies 15, die semifinaal gehaal:100m – 12.39 (890); en 200m – 25.38 (878). Al kon Chenade nie die eindrondes haal nie, is haar halfeind-tye van 12.40 (889) en 25.44 (900) genoeg bewys dat daar vorentoe nog baie van haar gehoor gaan word.

Wanneer NHS se Zané Nel, vanjaar m.16, vir haar spesialis-items (gewigstoot en skyfwerp) aanmeld, kan jy maar weet: Hier kom twee goeie ASA-punte van 800+! Sy het regdeur die seisoen, vanaf interhuis tot by SA’s, hierdie besonderse prestasie behaal. Al moes Zané saam met oorwegend ouer meisies in die groep m.18 deelneem, het sy stewige afstande van 12,65m (844) en 35,09m (822) gehaal, en behoort weer by SA-Skole deeglike rekenskap van haarself te gee.

Al het sy in haar uitdun ‘n goeie tyd van net oor die 64 sek. in die 400m hekkies (m.18) aangeteken, kon Simoné Lourens egter nie vir die finaal kwalifiseer nie. Hier is vir seker ‘n meisie wat binnekort die bekende Tessa Heystek se Nellie-rekords gaan toets!

Nou verskuif die aandag na die SA Skole-kampioenskappe, wat in die Boland (Paarl) sal plaasvind. Die studente, wat in Pretoria nog aan die onder 20 –  items kon deelneem, is dan uit die prentjie, en ‘n baie interessante byeenkoms word in die vooruitsig gestel.

Foto’s: Hilton Kotzé
Artikel: Kobus de Wet