NHS se atlete ryg die prestasies in op Potchefstroom

NHS se atlete ryg die prestasies in op Potchefstroom

Die jaarlikse Top 30 byeenkoms wat gereeld op Potch aangebied word, is wat deelnemersgetalle betref, sekerlik een van die grootste skole-byeenkomste in die RSA. NHS gee jaarliks aan sy top-atlete die geleentheid om aldaar, hul peil van afrigting en fiksheid, teen die beste skole noord van die Vaalrivier, te toets. Vanjaar se byeenkoms (18/19 Oktober), het vele atlete met groot glimlagte laat terugkeer, want met uitstekende vertonings in die sak, word daar met groot verwagting na die 2020-seisoen uitgesien.

‘n Ongelooflike totaal van 2074 atlete was in aksie! Die 47 deelnemende spanne is, sodat krag teen krag kon meeding, in drie groepe verdeel: Groep A (20), Groep B (15) en Groep C (12). Uiteindelik eindig NHS twaalfde in Groep A. Die seuns (25948) en meisies (24149) kon tesame 50097 ABSA-punte opstapel. Dit plaas Nelspruit bo skole soos Wesvalia, Vorentoe, Potch Gimnasium en Eldoraigne. Die wenspan was Menlopark, gevolg deur Prestige College, Helpmekaar en Monument.

Die drukkende, warm toestande en veranderlike wind, het dinge vir veral die naellopers, baie bemoeilik. Nogtans het die Nellies gewys dat hulle op die stophorlosie, maatband en meetstok gefokus gebly het – en die spoggerige vertonings, vertel die hele verhaal.

Ashley Erasmus (m.14) het ‘n opwindende gewigstootstryd teen Randburg se Mignon le Grange (14,74m) en Menlopark se SavannahVisser (14,04m) gevoer, maar was uiteindelik die enigste van die drie wat verder as 15m (15,15m) kon stoot. Haar wengooi van 43,30m (skyfwerp) was ook te goed vir haar teenstanders. Sterkman Douw Kruger (s.17) kon nie sy items wen nie, maar sy afstande van 18,91m (gewig) en 52,42m (skyf) was ‘n goeie afsluiting vir sy jaar as onder 17-atleet.

In Handré vd Merwe (s.15), Marco Capazorio (s.15) en Charles Nel (s.14), beskik Nellies tans oor drie skitterende hekkies-juniors wat van krag tot krag presteer! Charles het sy eie huishoudelike rekord van 13.80sek. (verlede week opgestel), na 13.74sek. verbeter. Op sy beurt, het Handré sy onder 15-jaar afgesluit deur die rekord in die 300m hekkies (Van Reenen Kruger se 38.82sek.) na ‘n blink 38.59sek. op te skuif.

NHS se gedugte spiesgooiers het ook weer eens die oë laat rek. Zander vd Merwe groet sy jaar in die s.17-groep met ‘n stewige 68,89m. Dit was ook verblydend om te sien hoe vier van Nelspruit se meisies, die 500g-spies verder as 30m kon laat grondvat. Jolanke van Zyl (m.15) se naam moet sekerlik hier uitgesonder word, want sy behaal ‘n uitstekende 36,09m – heelwat verder as Michelle Bouwer se bestaande Nellie-rekord van 35,68m.

Lig die hoed hoog vir Nelspruit se puik m.17-aflosspan! Na hulle triomftog aan die begin van die jaar (as onder 16’s), het hulle Saterdag in die item vir meisies 17 aangetree. Hulle tyd van 49.98sek.verpletter die vorige rekord van 52.00sek., en maak hulle dus die eerste onder17-span in die skool se 67-jarige bestaan, wat die 4x100m in minder as 50sek. kon aflê! Baie geluk aan Rhodé Nel, Jana Engelbrecht, Nicci Viljoen en Nicolize Aucamp – dit wil gedoen wees!

Die hoë ABSA-punte getuig van die strawwe kompetisie. Baie geluk aan die volgende Nellies wat daarin geslaag het om bo 800 punte in elkeen se item(-s) te kon verwerf.

Meer as 1000 punte:
Ashley Erasmus (m.14): gewigstoot – 15,15m (1200); ook skyfwerp – 43,30m (1200)
Shanese de Clerck (m.14): hoogspring – 1,60m (1011)
Zander vd Merwe (s.17): spiesgooi – 68,89m (1011)
Charles Nel (s.14): 100m hekkies – 13.74sek. (1077)
Douw Kruger (s.17): gewigstoot – 18,91m (1110)

Meer as 900 punte:
Shanese de Clerck (m.14): verspring – 5,06m (927)
Rhodé Nel (m.16): 100m – 12.53sek. (909); ook 200m – 25.63sek. (904)
Philip Vogel (s.15): hoogspring – 1,75m (907)
Marco Capazorio (s.15): 100m hekkies – 13.89 sek. (921)
Handré vd Merwe (s.15): 100m hekkies – 13.73sek. (953); ook 300m hekkies – 38.58sek. (992)
Henco de Nyschen (s.17): 400m – 49.78sek. (904)
Ruan Pretorius (s.14): hoogspring – 1,70m (959)
Douw Kruger (s.17): skyfwerp – 52,42m (929)
Karl Erichson (s.14): skyfwerp – 41,33m (935)

Meer as 800 punte:
Kristen Berry (m.14): 800m – 2:27.00 (863)
Lize Oosthuizen (m.14): spiesgooi 32,32m (886)
Mia Steenkamp (m.14): 300m hekkies 48.82sek. (808)
Danielle Groenewald (m.14): 200m 27.64sek. (815)
Anja Venter (m.14): skyfwerp 29,97m (860)
Lané Taljaard (m.16): hoogspring 1,60m (899)
Jolanke van Zyl (m.15): spiesgooi 36,09m (884)
Sylvia Barnard (m.15): spiesgooi 33,65m (810)
Karien Goosen (m.15): verspring 4,94m (843)
Aflos, m.17: (Rhodé, Jana, Nicci en Nicolize) 49.98sek. (868)
Philip Vogel (s.15): skyfwerp 45,17m (874)
Andreas Fouché (s.15): skyfwerp 44,45m (857)
André van Schalkwyk (s.14): 800m 2:14.18 (817)
Conrad Grobbelaar (s.17): 800m 2:03.53 (818)
Marvin Mtethwa (s.19): 110m hekkies 14.83 (827)
Marco Capazorio (s.15): 300m hekkies 40.36sek. (868)
Henco de Nyschen (s.17): 200m 23.02sek. (842)
Lourens Potgieter (s.17): 200m 22.60sek. (890)
Karl Erichson (s.14): spiesgooi 48,00m (853)
Ruben Vorster (s.14): 100m hekkies 14.86sek. (851)

‘n Opregte DANKIE! aan al die afrigters en atlete, wat deur die 2019-seisoen kliphard gewerk het om NHS se posisie as nr.1 atletiekskool in die Laeveld, asook in die hele provinsie, te handhaaf. Dankie vir al die ure van pure atletiek-genot, wat by vele byeenkomste deur die ondersteuners en atletiek-entoesiaste geniet kon word. Ons sien met groot verwagting uit na die groot opwinding wat in 2020 op die atletiekfront, op die horison wink!