21 Oct NHS se atlete verower top 10 posisie in Limpopo
Meer as ‘n duisend atlete van hoërskole vanoor die lengte en breedte van die ou Transvaal, het mekaar op Vrydag 14 en Saterdag 15 Oktober, op verre Mookghopong (vroeër Naboomspruit) die stryd aangesê. Dié prestige-geleentheid, was die jaarlikse Elardus Erasmus Top 10 byeenkoms, waar die room van meer as vyftig skole in die een opwindende item na die ander, in aksie was. Elke deelnemende skool kon tien seuns en tien meisies as ‘n span inskryf, wat elk aan twee items kon deelneem. Slegs die tien beste vertonings (volgens die ASA-tabel) is vir spanposisies in aanmerking geneem.
Hoërskool Nelspruit, Lydenburg en Rob Ferreira, het die Laeveld verteenwoordig. Nellies kon weer eens daarin slaag om met ‘n gemiddeld van 828 punte, onder die top tien skole te eindig. Lydenburg (25ste) het ‘n vroeë waarskuwing aan Rob Ferreira (31ste) vir volgende jaar se interhoër, gerig. NHS se meisies was sewende (uit 51 spanne), en die seuns negentiende (uit 54). Daar moet billikheidshalwe bygevoeg word dat talle van die seuns, steeds by ander aktiwiteite betrokke is en dus nog nie behoorlik uit die atletiekblokke kon kom nie.
Ashley Erasmus het met twee wêreldklas vertonings, toeskouers en deelnemers na hul asems laat snak! Sy verbeter haar bestaande SA-rekord in gewigstoot (meisies 17) na ‘n skitterende 18,65m, wat amptelik die beste vanjaar ter wêreld, is. Sy het wel aan die begin van die jaar ‘n yslike 19,05m gehaal, maar dit was op ‘n plaaslike byeenkoms, wat nie as nasionale rekord erken word nie. Dit was egter Ashley se reusepoging van 53,32m in skyfwerp, wat die kenners laat regop sit het. Slegs Miné de Klerk, wat tans in die VSA studeer, kon met haar nasionale rekord van 54,22m (meisies 20) ‘n beter afstand as junior, vanjaar haal. Hierdie 53,32m plaas Ashley in die vyfde posisie op die nasionale ranglys (alle ouderdomsgroepe). Wat die wêreld-ranglys vir 2022 betref, kon net China se Jiang Zhichoo (56,21m) en Kanada se Julia Tunks (53,72m) die 1kg-skyf verder laat grondvat. Beide wenafstande, het die maksimun van 1000 punte verdien, en Ashley is dan ook as die beste onder 17- atleet van die byeenkoms bekroon. Welgedaan!
Onder die seuns, het Divan de Kock (s.15) met sy stewige 56,00m in skyfwerp (911 punte), die beste gevaar. Hy het ook met ‘n goeie 14,50m in gewigstoot, 816 punte tot die seunstotaal bygevoeg. Menzi Shiba (s.14: 100m hekkies – 14.38, 813) was die enigste ander seun van NHS wat meer as 800 punte aangeteken het.
‘n Hele handvol van Nellies se meisies, kon daarin slaag om die 800+ kerf te oorskry. Zané Nel (m.14) was weer op haar stukke, en het in beide haar items, vir meer as 800 punte gesorg: skyfwerp – eersteplek met 34,58m, 861; en gewigstoot – 12,09m, 862. Christine Venter (m.16) het dieselfde vermag, deur in skyfwerp (36,59m – 860) en gewigstoot (12,20m – 838) te toon dat sy groot afstande vir die nuwe seisoen beplan. Nog ‘n gewigstoter wat uitgeblink het, is Anja Venter (m.17). Haar afstand van 12,86m het 852 punte tot die meisies se totaal bygedra. Sheba Sithole (m.15) het die eerste NHS-meisie geword wat in hierdie ouderdomsgroep, die 3000m in onder 11 minute kon voltooi. Haar nuwe Nellie-rekord van 10:59.38 (852) is werklik ‘n tyd om oor opgewonde te raak! Die ander 800-plussers, was Zoë Cilliers (m.14: 100m – 13.10, 806); Simoné Lourens (m.14: 90m hekkies – 14.96, 825; en die jonge Lana Theron (m.14: 200m – 26.97, 817).
Nog uithaler-vertonings wat ‘n mens na die nuwe seisoen laat uitsien, sluit in:
Zoë Cilliers (m.14): 200m – 27.58
Sheba Sithole (m.15): 1500m – 4:59.36
Kristen Berry (m.17): 1500m – 5:09.54
Liemoni Joubert (m.15): driesprong – 10,47m
Lana Theron (m.14): 100m – 13.29
Menzi Shiba (s.14): 300m hekkies – 41.27
Tye Habib (s.14): verspring – 5,87m
Kian Mouton (s.17): 1500m – 4:28.00
Janco Small (s.15): verspring – 6,14m; ook 100m – 11.39
Marko Matthee (s.16): verspring – 6,23m
Anele Mkhonto (s.15): 800m – 2:03.84; ook 1500m – 4:26.26
Joshua Fincham (s.15): 1500m – 4:30.70
Luhan van Wyk (s.16): skyfwerp – 38,62m
Nou verskuif die fokus na komende naweek se Top 30 byeenkoms op Potchefstroom, waar meer atlete die kans kry om hul vere vir die nuwe atletiekseisoen van 2023, reg te skud. Baie sterkte!
Berig: Mnr. Kobus de Wet