
12 Mar NHS se atletiek-‘tweeling’ skitter op Sasolburg
Die groep van net meer as 40 NHS-atlete wat as lede van die Lowmed Klub verlede Saterdag (6 Maart) op Sasolburg gaan deelneem het, sal die byeenkoms sekerlik nie lig vergeet nie! Nie alleen het die Laevelders die groot voorreg gehad om teen sterk atletiekskole soos Menlopark, Waterkloof, Zwartkop, Midstream en Secunda se sterre hul slag te wys nie, maar ook die unieke geleentheid om van Tukkies, Universiteit van Johannesburg en ander klubs, se beste senior atlete in aksie te kon sien.
Vir die juniors was daar slegs in die ouderdomsgroepe 16, 18 en 20 items op die program, wat meegebring het dat die meeste van die Nellies saam met ouer atlete moes deelneem – ‘n uitdaging wat die beroemde Nellie-‘guts’ weer na vore gebring het en met vlieënde vaandels geslaag is!
Dit was weer die bekende SA-atlete Ashley Erasmus en Shanese de Clerck wat die tonge los gehad het, toe hulle met puik vertonings die sterk teenstand getroef het. Ashley sorg vanjaar weer vir die een historiese prestasie na die ander! Saterdag het sy die eerste meisie in die skool, Laeveld en Mpumalanga se geskiedenis geword wat die 3kg-gewig verder as 17m kon stoot. Haar wenafstand van 17,07m (meisies 18) is werklik van internasionale gehalte en selfs goed genoeg om die eindronde op ‘n Wêreld Jeug-kampioenskappe te haal! Die stryd tussen haar en Gauteng se Zonika Lindeque – wat ook al vanjaar 17m gehaal het – behoort een van die hoogtepunte by vanjaar se nasionale kampioenskappe te wees. Shanese het eweneens geskitter toe sy die hoogspring vir meisies 16 in ‘n blinknuwe Nellie-rekord van 1,69m gewen het. Dit het René Breytenbach se rekord van 2001 met 1cm verbeter.
Daar is slegs ‘n handjievol onder 17- seuns in die land wat die 200m onder 22 sek. kan aflê – en NHS se André Potgieter is na dese een van hulle! Die Nellie-rekord van 21.72 sek. (Pierre Lombard, 2006) staan al sedert 2006, maar André se 21.90 sek. wys dat geen rekord onaantasbaar is nie. Sy 11.09 sek. in die 100m dui ook op ‘n sub- 11 sek. in die afsienbare toekoms – voorwaar iets om na uit te sien!
NHS spog natuurlik ook met ‘n hekkies-‘tweeling’, nl. Marco Capazorio en Handré vd Merwe. Saterdag het hierdie twee manne weer die stem dik gemaak en met puik tye vorendag gekom. Marco het in die 110m- en 400m hekkies (seuns 18) met tye van 14.42 sek. en 55.52 sek. uitgeblink, terwyl Handré se tye van 14.60 sek. en 55.30 sek. ook van uitstekende afrigting getuig.
Tanya Pieterse (nog onder 15) het in die 400m vir meisies 16, met ‘n stewige 59.55 sek. gewys dat daar nog groot dinge vir haar aan die kom is. So ook die jonge Nathan Duncan (ook nog onder 15), wat in die middelafstande vir seuns 16, die atletiekharte met baie goeie tye van 2:04.21 (800m) en 4:35.63 (1500m) verbly het.
Nog ‘n klompie uitstaande vertonings:
Hannes Botha (s.18): spiesgooi – 61,41m (wen item)
Alexandre Viljoen (s.18): 800m – 2:01.22
Wikus van Biljon (s.18): 200m – 23.14 sek.; ook 400m – 52.28 sek.
Hanlu Scoeman (s.16): 110m hekkies – 15.30 sek.
Ruben Vorster (s.18): 400m hekkies – 60.15 sek.
André van Schalkwyk (s.16): 800m – 2:08.66
Karl Erichsen (s.18): spiesgooi – 48,29m
Shanré Ehlers (m.16): skyfwerp – 32,43m; ook gewigstoot – 10,96m
Christine Venter (m.16): skyfwerp – 29,07m; ook gewigstoot – 10,21m
Ashley Erasmus (m.18): skyfwerp – 36,18m
Sylvia Barnard (m.18): spiesgooi – 32,56m
Zané Potgieter (m.18): 100m – 12.89 sek., ook 200m – 27.49 sek.
Tanya Pieterse (m.16): 90m hekkies – 14.26 sek.
Zané du Toit (m.16): 200m – 27.93 sek.
Kristen Berry (m.18): 800m – 2:32.62; ook 1500m – 5:15.94
Eerskomende naweek reis ‘n groot aantal atlete en hul afrigters na Boksburg en Middelburg om aldaar verder vir die komende provinsiale en nasionale byeenkomste te gaan slyp. Sterkte!
Foto’s: Instagram (atletiek_vir_almal)
Teks: Kobus de Wet