
21 Feb NHS se atletieksterre blink tussen die bestes by die Twizza-finaal
Saterdag 19 Februarie 2022, was voorwaar ‘n dag van uiterstes en vele uitdagings vir die Gideonsbende Nellies wat in die Ruimsig-stadion op Roodepoort in aksie was. Weens deurdringende reën, het die byeenkoms bykans twee ure laat begin, en tesame met die senuwees wat maar erg geknaag het om teen die beste spanne vanoor die lengte en breedte van ons land mee te ding (vir sommige atlete, ook in ‘n hoër ouderdomsgroep), het dit ware Nellie-‘guts’ geverg om sterk te staan en met goeie vertonings vorendag te kon kom.
In totaal was daar 77 (!) spanne in aksie, almal skole wat in 2021 na die twee uitdun-byeenkomste in die suide (Paarl) en noorde (Pretoria), vir die finaal gekwalifiseer het. Daar is in net drie ouderdomsgroepe (15, 17 en 19) meegeding, met party items wat meer as 40 inskrywings gelok het. Alles het gedraai om die hoeveelheid ASA-punte wat ‘n span in totaal bymekaar kon maak.
Ashley Erasmus (m.17) was weer die bestendigheid self, toe sy in beide haar items, ‘n pragtige voltal van 1000 punte verwerf het. Haar afstande van 18,33m (gewigstoot) en 47,47m (skyfwerp) was weer eens wêreldklas! In gewigstoot was die tweede atleet, Menlopark se Savannah Visser, met 15,31m meer as drie meter agter Ashley. Die stryd tussen Ashley en Menlo se Alicia Khunou in skyfwerp, behoort egter een van die groot hoogtepunte op die komende nasionale byeenkomste te wees. Saterdag het Khunou met ‘n stewige 46,21m, getoon dat sy die een is wat die Nelspruiter om die goue medalje gaan uitdaag. Ashley se 47,47m het haar bestaande Nellie-rekord van 47,28m met 19cm oortref.
‘n Atleet wat baie beslis ook spesiale vermelding verdien, is Sheba Sithole (m.15). Sy het haar nie deur die massa deelnemers laat intimideer nie, en die 800m-rekord van Nicola Cronjé wat in 2015 opgestel is (2:17.13) na ‘n uitstekende tyd van 2:17.07 verbeter (906 ASA-punte). Sheba was ook in die 1500m op haar stukke, en haar persoonlike beste van 4:49.78 het gewys dat Jessica Berry se rekord van 4:49.08 gewis op wankelrige bene staan! Zoë Cilliers is vanjaar nog onder 14, maar moes aan die naellope vir meisies 15 deelneem. Haar pragtyd van 26.16 sek. In die 200m, was ‘n verbetering van Zani Mattheus (2007) se onder 14-rekord wat op 26.22 gestaan het.
NHS se bekende hekkies-”tweeling” wat deur die jare soveel vreugde met hulle onvergeetlike wedlope besorg het, Handré van der Merwe en Marco Capazorio, is vanjaar in matriek. Beide het Saterdag in hul onderskeie uitdunne geskitter, en is uiteindelik onder die top 5 in die 110m- en 400m hekkies geplaas, en het ook elk vir twee prestasies bo 800 punte op die ASA-tabel gesorg.
Baie geluk aan die volgende Nellies, wat daarin kon slaag om 800 punte of meer, by die skool se totaal te voeg:
Ashley Erasmus (m.17): gewigstoot – 18,33m (1000); ook skyfwerp – 47,47m (1000)
Sheba Sithole (m.15): 800m – 2:17.07 (906); ook 1500m – 4:49.78 (838)
Rhodé Nel (m.19): 100m – 12.17 (867)
Zané Nel (m.15): gewigstoot – 12,45m (861); ook skyfwerp – 32,96m (818) *nog onder 14
Zoë Cilliers (m.15): 100m – 12.67 (846); ook 200m – 26.16 (848) *nog onder 14
Simoné Lourens (m.15): 90m hekkies – 14.78 (805): ook 300m hekkies – 47.24 (831) *nog onder14
La-Alizia Venter (m.19): gewigstoot – 11,10m (825)
Anja Venter (m.17): skyfwerp – 35,22m (824)
Handré vd Merwe (s.19): 110m hekkies – 14.80 (840); ook 400m hekkies – 54.43 (860)
Marco Capazorio (s.19): 110m hekkies – 14.76 (844); ook 400m hekkies – 55.38 (821)
André Potgieter (s.19): 100m – 10.77 (816); ook 200m – 21.87 (804)
Kian Mouton (s.17): 1500m – 4:14.08 (831); ook 3000m – 9:37.50 (805)
Ruben Vorster (s.17): 110m hekkies – 15.08 (800)
Vaughn van Zyl (s.15): skyfwerp – 52,43m (869): ook gewigstoot – 14,23m (803)
Foto’s: Super Schools Series (Facebook)