10 Mar NHS se atletieksterre skitter by provinsiale byeenkoms
Die 2020-Mpumalanga Atletiekkampioenskappe wat Saterdag 7 Maart te Secunda aangebied is, was wat die standaard van uitslae betref, een van die heel bestes tot op datum. Die provinsie behoort deeglik van homself by vanjaar se nasionale byeenkomste (SA-skole en ASA) rekenskap te gee – en die meer as ‘n dosyn Nellies wat in die span is, behoort gewis hul stemme in die uitgelese geselskap dik te kan maak.
Die stryd om provinsiale kleure, bring die beste uit ‘n sportman of -vrou. Vier huishoudelike rekords het Saterdag in die stof gebyt, en talle atlete het met persoonlike beste prestasies, die toeskouers bederf. Ashley Erasmus (m.15) het haar eie skyfwerprekord (45,83m) met ‘n puik wengooi van 46,25m, ver oortref. Dit maak haar een van slegs drie skoolatlete (alle ouderdomsgroepe) wat tot dusver vanjaar, die 1kg-skyf verder as 46m kon gooi – en die eerste meisie in die Laeveld se atletiekgeskiedenis, wat daardie grens kon oorskry. Rhodé Nel (m.17) se 200m-tyd van 24.70 het ook kleingeld van haar vroeëre rekord van 24.91 gemaak. Ook Shana Scott (m.17) was in ‘n rekordbui. Met haar uitstekende poging van 36,15m (skyfwerp) het sy nuwe terrein betree en lyk oorgehaal om in die volgende seisoen, Marné vd Merwe se rekord vir meisies 19 (37,10m) te troef.
Dan het Handré vd Merwe (nog s.16) ook geskitter, toe hy Francois Vermaak se rekord in die 110m hekkies vir s.17, wat sedert 2007 op 14.28 gestaan het, met ‘n puik tyd na 14.10 laat krimp het.
Baie geluk aan die vier Nellies wat na dese daarmee kan spog dat hulle dubbel-Mpumalanga-kampioene vir 2020 is: Douw Kruger (s.19, gewigstoot en skyfwerp); Ashley Erasmus (m.15, gewigstoot en skyfwerp); Shanese de Clerck (m.15, hoog- en verspring); en Rhodé Nel (m.17, 100m en 200m). Groot applous ook vir La-Alizia Venter, wat vanjaar nog ‘n onder 16-atleet is, en Saterdag die gewigstoottitel vir meisies 17, met ‘n pb van 12,93m ingepalm het.
NHS se Mpumalanga-kampioene vir 2020, met hulle vertonings en ASA-punte bo 800 aangetoon, is die volgende:
- Kian Mouton (s.15): 1500m – 4:19.18
- Zander vd Merwe (s.19): spiesgooi – 60,64m
- Douw Kruger (s.19): gewigstoot – 16,77m (842); en skyfwerp – 53,52m (885)
- Shanese de Clerck (m.15): hoogspring – 1,64m; en verspring – 5,18m
- Ashley Erasmus (m.15): gewigstoot – 16,31m (982); en skyfwerp – 46,25m (972)
- Rhodé Nel (m.17): 100m – 12.20 (822); en 200m – 24.70 (858)
- La-Alizia Venter (m.17): gewigstoot – 12,93m (900)
- Shana Scott (m.17): skyfwerp – 36,15m (858)
Naaswenners (silwermedaljes):
- Charles Nel (s.15): 100m hekkies – 13.62 (860)
- Ruan Pretorius (s.15): hoogspring – 1,75m
- Handré vd Merwe (s.17): 400m hekkies – 55.59 (*hy is nog s.16)
- Philip Vogel (s.17): skyfwerp – 42,66m (*ook nog s.16)
- Hannes Botha (s.17): spiesgooi – 54,17m (*s.16)
- Nicci Viljoen (m.17): 100m hekkies – 14.88 (838)
- Shana Scott (m.17): gewigstoot – 12,54m (885)
Jolanke van Zyl (m.17): spiesgooi – 36,00m (*nog m.16)
Derdeplekke (brons):
- Wikus van Biljon (s.17): 400m – 50.92 (*nog s.16)
- Handré vd Merwe (s.17): 110m hekkies – 14.10 (896, *nog s.16)
- Marvin Mthethwa (s.19): 110m hekkies – 14.55 (866)
- Douw Kruger (s.19): spiesgooi – 55,10m
- Lize Oosthuizen (m.15): spiesgooi – 29,48m
- Anja Venter (m.15): gewigstoot – 11,92m (888)
- Nicci Viljoen (m.17): 400m hekkies – 68.53
Hulle mag nou wel nie medaljes verower het nie, maar die volgende groepie atlete kan eweneens glimlag oor die goeie vertonings wat hulle gelewer het:
- Karl Erichsen (s.15): skyfwerp – 44,25m; en spiesgooi – 46,60m
- Heino Meiring (s.15): spiesgooi – 44,53m
- Ruben Lorist (s.15): gewigstoot – 12,36m; en skyfwerp – 39,90m
- Kian Mouton (s.15): 3000m – 9:47.17
- Marco Capazorio (s.17): 110m hekkies – 14.13 (893, ook beter as die vorige Nellie-rekord – en Marco is nog s.16). Sy tyd in die 400m hekkies was 57.94.
- Philip Vogel (s.17): gewigstoot – 13,21m; en spiesgooi – 49,13m (*nog s.16)
- Coben Putter (s.19): skyfwerp – 42,47m
- Kristen Berry (m.15): 800m – 2:24.84
- Anja Venter (m.15): skyfwerp – 33,90m (854)
- Jana Engelbrecht (m.17): 100m – 12.82; en 200m – 26.61
- Nicci Viljoen (m.17): 400m – 60.10
- Amoné de Beer (m.17): spiesgooi – 35,10m
- Shana Scott (m.17): spiesgooi – 32,16m
- Sylvia Barnard (m.17): spiesgooi – 32,14m
Wat vir NHS die kroon op ‘n baie suksesvolle Secunda-byeenkoms gespan het, was die bekendmaking van die name van atlete wat Mpumalanga by die komende SA-skole, sowel as ASA se Jeug en Junior Kampioenskappe, gaan verteenwoordig. Baie geluk aan NHS se provinsiale atlete vir 2020:
Meisies – Ashley Erasmus, Anja Venter, Shanese de Clerck, La-Alizia Venter, Jolanke van Zyl, Rhodé Nel, Nicci Viljoen en Shana Scott.
Seuns – Charles Nel, Kian Mouton, Ruan Pretorius, Marco Capazorio, Handré vd Merwe, Marvin Mthethwa, Douw Kruger, Coben Putter, Wikus van Biljon en Zander vd Merwe.
‘n Geil oes, voorwaar! Baie sterkte, mag julle en julle afrigters, die 2020-seisoen op ‘n hoë en bevredigende noot afsluit.