NHS se atletieksterre wen ‘n hele handvol medaljes by SA’s!

NHS se atletieksterre wen ‘n hele handvol medaljes by SA’s!

Die tien Nellies-atlete wat Mpumalanga vanjaar by ASA se sub-jeug (onder 16), jeug (onder 18) en junior (onder 20) kampioenskappe in die Dal Josafat-stadion te Paarl (Boland) verteenwoordig het, het met nie minder nie as VYF medaljes huiswaarts gekeer! Daar is min skole landswyd, wat met so ‘n geil oes van een goue-, een silwer- en drie bronsmedaljes na so ‘n prestigeryke byeenkoms, kan spog. ‘n Totaal van SES huishoudelike (Nellie-) rekords het in die slag gebly, en na dese beklee van die atlete posisies in die top 10 op IAAF se internasionale ranglyste!

Ashley Erasmus het in beide haar spesialis-items (skyfwerp en gewigstoot) in die afdeling vir meisies 18, die maksimun van 1000 punte op ASA se tabel verdien. ‘n Reuse gooi van 48,20m het die wind uit die opponente se seile geneem, en Ashley is dan die 2021 Suid-Afrikaanse jeug-skyfwerpkampioene. Clarissa le Roux van Sentraal Gauteng (44,93m) en Lesedi Khunou (Gauteng-Noord, 43,66m) het veels te min skietgoed gehad om die Nelspruiter enigsins te kon uitdaag. Ashley het reeds tydens die vorige dag se uitdunronde, haar eie Nellie-rekord van 43,48 (m.16) na 43,80m opgeskuif, maar die wengooi in die finaal was bykans 5m verder! Dit plaas haar tot dusver, in die nr.6-posisie in die wêreld. Cedricka Williams van Jamaica lê tans eerste met 51,27m.

Zonika Lindeque van Gauteng het geweet dat sy, wat voor die byeenkoms vanjaar reeds 17,71m in gewigstoot (ook m.18) gehaal het, met iets baie besonders vorendag sou moes kom, om Ashley (beste van 17,07m) om die goue medalje te kon klop. Dit was dan ook ‘n felle stryd, met Ashley wat met ‘n loopbaanbeste van 17,46m (39 cm verder as haar eie NHS-rekord) gesag afgedwing het. Zonika se nuwe SA-rekord van 18,18m is ‘n duidelike bewys dat Ashley haar goed skrik gemaak het! Welgedaan, Ashley – en baie geluk met die tweede plek op die internasionale ranglys!

Daar is reeds regoor ons land, van NHS se twee hekkies-‘brekers’, Handré vd Merwe en Marco Capazorio, kennis geneem. Beide van hulle het dan ook hul kleim afgesteek, toe hulle in die 110m-sowel as die 400m hekkies (s.18) gemaklik na die finaal deurgedring het. Ons lig die hoed hoog vir Handré, wat vandag daarmee kan spog dat hy in altwee hekkies-items, die nr.3 in die ganse Suid-Afrika is! Om twee medaljes op ‘n nasionale byeenkoms te kan wen, wil gedoen wees! Verder, het Handré ook beide die Nellie-rekords in hekkies (s.17) verpletter: Sy 14.03 in die 110m-finaal, het sy eie rekord van 14.10 laat spat; en met ‘n pragtyd van 52.83 (400m hekkies) het hy Devon Nell se rekord wat in 2018 opgestel is, met ‘n volle sekonde oortref. Marco kan self goed voel oor sy tye van 14.57 en 54.30 wat hy in die Paarl aangeteken het.

Shanese de Clerck, nog onder 16 (soos Ashley), het haar eie rekord van 5,45m in verspring, met ‘n uitstekende afstand van 5,67m na kleingeld laat lyk! Daarmee het sy gemaklik voor Vrystaat se Jana van Tonder (5,53m) in die brons-posisie geëindig. Shanese het vanjaar met beserings gesukkel, maar nogtans in die uitdunne van driesprong (m.18) met ‘n baie goeie 11,29m na die finaal deurgedring.

Jolanke van Zyl (spiesgooi, m.18) kon wel net ‘n sesde plek behaal, maar sy ontwikkel steeds van krag tot krag. Haar beste gooi van 43,07m was ook heelwat verder as haar vorige beste en huidige Nellie-rekord van 42,69m. Sy kan met vertroue haar visier op nog ‘n stukkie NHS-geskiedenis stel, wanneer sy volgende seisoen die 500g-spies met die 600g-een moet vervang, en ook daar die eerste Nellie kan word om deur die 40m-grens te breek.

Twee ander atlete het net-net ‘n medalje gemis, toe hulle vierde in hul items se finaal klaargemaak het. Tanya Pieterse (m.16) het haar uitdun in die 400m in ‘n goeie 59.35 gewen, en het dit in die eindronde tot ‘n indrukwekkende 58.45 verbeter. Hier hou Rhodé Nel die rekord (57.92). Die ander atleet wat so byna ‘n medaljewenner was, is Nathan Duncan (s.16). Nadat hy in sy uitdun vir die eerste keer onder 2 minute in die 800m kon draai (1:59.81) en tweede was, het hy baie goed in die finaal gehardloop. Hy was vir die grootste deel van die wedloop in die derde plek, maar enkele meter voor die wenpaal, is hy in die vierdeplek gedwing. Sy tyd van 2:01.25 is nogtans een van sy bestes.

La-Alizia Venter (m.18) het met ‘n stewige 12,14m vir die eindronde van die gewigstoot gekwalifiseer, maar die standaard was net te hoog. Hannes Botha (s.18) se 58,91m het hom sewende laat eindig, en Charné Strydom (m.18) se droomseisoen in spiesgooi, het met ‘n 31,56m tot ‘n einde gekom. Hierdie drie atlete het egter reeds uitgeblink deur provinsiale kleure te verwerf – iets om op trots te wees!

NHS is met reg baie trots op al die atlete en hul entoesiastiese afrigters, wat ondanks die uitdagings wat die ongemaklike Covid-situasie ook vir atletiek gebied het, nooit die visiere laat sak het nie en uiteindelik met puik vertonings en prestasies beloon is.