19 Sep NHS verloor Mpumalanga T-20 finaal met twee paaltjies
Die Mpumalanga T20-finaal tussen NHS en Cambridge Academy van Witbank het Woensdag, 18 September, te Hoërskool Nelspruit plaasgevind. Die Nellies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die openingskolwer, Chyle van Zyl, het slegs twee lopies aangeteken voor hy deur Arno Janse van Rensburg uitgevang is vanaf die boulwerk van Dian Eicker. Danksy ‘n skitterende beurt deur die kaptein, Jacques Vosloo, het die Nellies ‘n groot totaal van 185 in die 20 beurte op die telbord gesit. Jacques het 92 van net 51 aangeteken en het 10 viere en 4 sesse geslaan. Cambridge se Zuan Swart het die Nellies onder druk geplaas en eindig sy boulbeurt met 3 paaltjies vir net 25 lopies in 4 beurte.
Cambridge was vinnig op die aanval en het met ‘n redelike vinnige tempo lopies aangeteken. Die Nellies se boulers het ook nie teruggehou nie, en na die 15de beurt reeds 5 paaltjies geneem vir 131 lopies. Die besoekers het toe nog ‘n groot totaal van 55 lopies van net 30 balle benodig. Dit was egter Nathan du Toit (48 lopies van 26 balle) en Arno Janse van Vuuren (45 lopies van 33 balle) se skitterende kolfbeurte wat Cambridge naby aan die wentelling gebring het. Renier Holtshausen het 3 paaltjies vir 28 lopies in 2.5 boulbeurte aangeteken.
Die wedstryd het tot ‘n spannende einde geloop met die besoekers wat net 7 lopies in die laaste beurt benodig het. NHS se boulers en veldwerkers kon net nie die lopies keer nie en Cambridge wen met net twee paaltjies. Baie geluk aan Cambridge Academy wat hierdie jaar die T-20 Mpumalanga wenners is.