Nog ‘n “laaste” vir matrikulante

Nog ‘n “laaste” vir matrikulante

Dinsdag 18 Oktober het die graad 8-11 leerders vir oulaas saam met die matrikulante ‘n saalopeningsgeleentheid op die skoolveld bygewoon.

Die twee dux’e van 2021/2022, Paul Harley en Rhodé Nel het ook ‘n spreekbeurt gekry en het hul woorde het uit hulle harte gekom.

“Ons is bevoorreg dat NHS ons tuiste was vir vyf jaar. Die kultuur van uitnemendheid maak ons elkeen spesiaal,” sê Paul.

Hy het ook die personeel bedank vir hulle toewyding, begrip en harde werk. Rhodé het in haar toespraak ‘n pragtige seëngebed uitgespreek oor die skoolhoof. “Graad 8’s ons het in so kort tydjie so lief geword vir julle. Dit was ‘n voorreg om deel te wees van die eerste hoofstuk van julle lewe by NHS.”

Na afloop van die verrigtinge het al die leerders ‘n erewag gevorm, van die pawiljoen tot by die tonnel. Dit was ‘n baie spesiale oomblik toe die graad 12’s met luide toejuiging deur die erewag, van die skoolveld tot by die skool beweeg het.

Ons wens hierdie leerders baie sterkte toe met die voorbereiding vir die nasionale eindeksamen wat reeds ernstig wink.