26 Feb Nogeens Laeveld-interhoërtriomf vir NHS!
Saterdag 25 Februarie 2023 sal vir seker nog vir baie jare deur duisende Laevelders onthou word! Die jaarlikse vriendskaplike interhoër-atletiekbyeenkoms, wat baie suksesvol en glansryk deur Hoërskool Lydenburg aangebied is, het te midde van ‘n dreigende sikloon, nat toestande en talle vooraf-byeenkomste wat deur gure weer ontwrig is, uiteindelik vele prag-prestasies, talle trofeë en dosyne podiumplekke, vir ‘n begeesterde NHS-span opgelewer.
Na sowat ‘n uur of vier van klipharde medediging, het die uitdrukking, ‘Twee honde baklei om ‘n been, en ‘n derde gaan daarmee heen’ by ‘n mens opgekom. Die fokus was merendeels op die verwagte tweestryd tussen tradisionele atletiek-‘vyande’ NHS en Rob Ferreira – en toe kom Lydenburg met ‘n doelgerigte intensiteit wat almal verras het! Veral hulle meisies het die Nellies gedwing om na ‘n hoër rat oor te skakel, en die gevoel van ‘n moontlike opskudding op die telbord, het vir groot opwinding gesorg. Na spanningsvolle afloswedlope wat om die beurt deur NHS, Lydenburg en Rob Ferreira gewen is, het die finale berekeninge die puntestand soos volg bevestig:
Meisies: NHS 819, Lydenburg 704 en RF 471
Seuns: NHS 783, RF 678 en Lydenburg 665
Totaal: NHS 1602, Lydenburg 1369 en RF 1149
NHS wen dus die gesogte spantrofee vir die 58ste keer agtereenvolgens. Baie geluk, en baie dankie ook aan die ander spanne wat sterk meegeding het en die beste uit die Nellies gehaal het.
Wat individuele trofeë betref, het NHS vyf van die ses toekennings verower:
Beste prestasie, seuns: Divan de Kock (s.16 skyfwerp – 52,75m, 902 ASA-punte)
Beste prestasie, meisies: Ashley Erasmus (m.19 gewigstoot – 17,01m, 1000 ASA-punte)
Junior Victor Ludorum: Menzi Shiba
Junior Victrix Ludorum: Simoné Lourens
Senior Victrix Ludorum: Ashley Erasmus
Op die pawiljoen, het die Nellies omtrént gekook! Sowat van uitbundige en opgewonde gesing en gejuig is lanklaas gehoor. Daar was sewe toekennings op die spel – en NHS stap vanjaar met vier van hulle weg: Opkoms van dirigente en kreet; voorbereide liedjies, beste dirigente-groep; en GEESBEKER! Goue eerbewyse vir prima vasbyt, volgehoue alles-gee en samewerking soos min!
Interhoër is maar altyd die geleentheid waar van ‘n paar ster-atlete wat oor ‘n tydperk van vyf jaar, medaljes vir hulle skool ingeoes, en pragtig presteer het, afskeid geneem moet word. Baie dankie aan al die matrieks wat in hierdie kategorie val. Ashley Erasmus het haar beste, vir haar laaste Laeveld-inter gebêre. Met ‘n fenomenale 17,01m in gewigstoot m.19, herskryf sy die rekordboeke. Hierdie grootse prestasie (die volle 1000 ASA-punte werd) verbeter nie alleenlik net die interhoër-, provinsiale en Nellie-rekord nie, maar maak Ashley ook die tweede beste in die land se atletiek- geskiedenis! Net Miné de Klerk, die huidige wêreldkampioen vir m.19, kon ‘n beter afstand as junior haal. Ashley se 50,16m in skyfwerp, is eweneens ‘n nuwe interhoërrekord wat sekerlik vir baie, baie jare nog ongeskonde op atletiekprogramme sal pryk.
Die hoë standaard wat NHS se atlete deurgaans gehandhaaf het, word bewys deur die feit dat een atleet (Lana Theron, m.14)VIER, en nog agt atlete DRIE eersteplekke behaal het! Laasgenoemde groep bestaan uit Kian Mouton (s.19), Aldo van Jaarsveld (s.14), Robroy MacGregor (s.14), Sheba Sithole (m.16), Ashley Erasmus (m.19), Simoné Lourens (m.15), Cherike Boshoff (m.17) en Angelica Graham (m.19). ‘n Verdere groep van AGT atlete, spog met twee goue medaljes elk. Wat ‘n wonderbaarlike prestasie! Dit gebeur ook nie sommer dat ‘n atleet daarin slaag om by interhoër, die 100m, 200m én 400m in te palm nie – en DRIE van NHS se meisies het dit vermag. Geluk aan Lana Theron (m.14), Cherike Boshoff (m.17) en Angelica Graham (m.19).
Om net een (van talle) voorbeelde van Nellie-‘guts’ uit te sonder, verdien die naam van Livy Owen beslis spesiale vermelding. In die 100m hekkies vir meisies 19, was Rob Ferreira se Erin Merensky die groot gunsteling om met goud weg te stap. Livy byt egter die stang stewig vas, bly gefokus op haar eie wedloop, en wen goud deur haar persoonlike beste tyd met ‘n puik 15.66 sekonde te verpletter! Erin se tyd was 15.87, self ‘n goeie prestasie.
Ons lig die hoed hoog vir al die Nellies wat tot die span se wentotale bygedra het! Spesiale gelukwense aan die medaljewenners. Individuele wenners (goue medaljes) was (punte bo 750 aangedui):
SEUNS
Menzi Shiba (s.15): 300m hekkies – 41.04; ook verspring – 6,06m
Kian Mouton (s.19): 3000m – 10:17.07; ook 800m – 1:58.03; en 1500m – 4:29.03
Vian Louw (s.15): gewigstoot – 13,55 (771); ook skyfwerp – 47,64m (811)
Wiaan van Benecke (s.17): skyfwerp – 40,05m
Aldo van Jaarsveld (s.14): 100m hekkies – 15.04; ook 300m hekkies – 44.22; hoogspring – 1,60m
Robroy MacGregor (s.14): gewigstoot – 13,21m (760); ook skyfwerp – 35,42m; en spiesgooi – 35,54m
Divan de Kock (s.16): gewigstoot – 16,26m (874); en skyfwerp – 52,75m (902)
Banele Ngwenya (s.17): hoogspring – 1,72m
Karl Erichsen (s.19): spiesgooi – 43,76m (nat aanloop en vastrap)
Anele Mkhonto (s.16): 800m – 2:08.28
David Botha (s.17): spiesgooi – 59,87m (799)
Nathan Duncan (s.17): 800m – 2:03.50
Bradley Claassen (s.17): gewigstoot – 12,91m
Marko Mathee (s.17): verspring – 6,12m
Ryno Meyer (s.19): skyfwerp – 36,16m
Vaughn van Zyl (s.16): spiesgooi – 52,90m
Janco Small (s.16): verspring – 6,44m (793)
Owen Ngwenya (s.16): hoogspring – 1,83m (790)
Ryan Venter (s.19): gewigstoot – 14,72m (800)
Rian Botha (s15): spiesgooi – 48,74m
Lian Antunes (s.15): 400m – 54.69
Aflos, s.17 – 45.72
MEISIES
Ashley Erasmus (m.19): gewigstoot – 17,01m (1000); ook skyfwerp – 50,16m (1000); en spiesgooi met 34,65m
Sheba Sithole (m.16): 800m – 2:26.50 (785); ook 1500m – 5:22.78; en 3000m m.19 – 11:14.79 (816
Zané Nel (m.15): gewigstoot – 12,35m (858); en skyfwerp – 37,06m (883)
Livy Owen (m.19): 100m hekkies – 15.66 (783); en 400m hekkies – 67.16 (823)
Annabel Badenhorst (m.14): spiesgooi – 25.18m
Megan Britz (m.14): verspring – 4,35m
Vicky J. van Vuuren (m.15): spiesgooi – 27,26m
Simoné Lourens (m.15): 90m hekkies – 14.03 (845); ook 300m hekkies – 46.37 (849); en 400m – 61.88
Lana Theron (m.14): 100m – 12.72 (824); ook 200m – 26.40 (835); 400m – 62.60 (784); en 300m hekkies – 48.44 (813)
Zoë Cilliers (m.15): 100m – 12.41 (851); en 200m – 26.56 (813)
Cherike Boshoff (m.17): 100m – 13.44; ook 200m – 27.62; en 400m – 64.12
Zané du Toit (m.17): verspring – 4,72m
Juané le Roux (m.16): gewigstoot – 11,60m (814): en skyfwerp – 30,16m (755)
Angelica Graham (m.19): 100m – 13.07; ook 200m – 26.75 (760); en 400m – 62.66
Diané vd Walt (m.14): gewigstoot – 10,54m (795)
Kristen Berry (m19): 800m – 2:27.69 (766); en 1500m – 5:39.13
Christine Venter (m.17): skyfwerp – 31,43m (763)
Lourica vd Merwe (m.16): spiesgooi – 29,05m
Layla Wieland (m.14): 90m hekkies – 15.47 (773)
Elizma de Villiers (m.16): hoogspring – 1,55m
Mienke de Ruiter (m.17): 1500m – 5:54.25
Kaycee Fincham (m.15): 1500m – 5:18.53
Renate Swanepoel (m.14): skyfwerp – 25,08m
Aflos, m.14 – 53.54
Aflos, m.15 – 51.78
Aflos, m.19 – 52.03
Artikel: Mnr. Kobus de Wet
Foto’s: Mnr. Hennie Homann