19 Apr Opwindende atletiekseisoen eindig op ‘n goue noot vir NHS
Niemand wat enigsins betrokke was, sal die 2021- atletiekseisoen vir skole gou vergeet nie – veral nie as jy as die nuwe SA-kampioen gekroon is nie! ‘n Week of wat terug, was dit Ashley Erasmus se voorreg en groot prestasie, en die afgelope naweek in Pretoria, het NHS se Philip Vogel hom by haar aangesluit.
Philip het, nadat hy vroeër die tienkamptitel vir seuns 18 by AGN se provinsiale kampioenskappe ingepalm het, aan die nasionale byeenkoms deelgeneem. Om binne die bestek van net twee dae, aan tien uitmergelende items deel te neem, is ‘n reuse uitdaging! Op dag 1 moes Philip aan 100m, verspring, gewigstoot, hoogspring en 400m deelneem. Op dag 2 het 110m hekkies, skyfwerp, paalspring, spiesgooi en 1500m (menige tienkampatleet se moses!) aan die beurt gekom.
Die veelsydige Nelspruiter het egter die stang styf vasgebyt, en met kenmerkende Nellie-‘guts’ in 8 van die 10 items, voor sy uitdager, Marko Foord van Sentraal Gauteng, geëindig. Philip se eindtotaal (volgens die ASA-tabel) was 5210, teenoor Foord se 4242. Dit was veral in worpe waar Philip die gaping tussen hom en sy uitdager gerek het.
So het die tweestryd verloop (Philip se uitslag eerste genoem):
100m – 12.24 (teenoor 12.45)
verspring – 5,60m (5,41m)
gewigstoot – 13,54m (10,53m)
hoogspring – 1,78m (1,72m)
400m – 59.2 (58.99)
110m hekkies – 17.19 (19.59)
skyfwerp – 41,15m (25,57m)
paalspring – 2,80m (2,80m)
spiesgooi – 42,70m (27,14m)
1500m – 5:58.80 (5:38.07)
Vier jaar gelede, het nog ‘n Nellie, Rainer Spruyt, die silwermedalje (ook vir seuns 18) verower. Philip is egter NHS se eerste nasionale tienkamp-kampioen. Baie geluk!
Ashley Erasmus,vanjaar nog onder 16, het waardevolle ervaring opgedoen toe sy saam met ons land se beste senior skyfwerp-dames deelgeneem het. In koue, uitdagende omstandighede het Ashley met ‘n gooi van 46,00m gewys dat sy tans onder die beste vroue-atlete in die land tel. Al het sy sesde geëindig, kan sy baie tevrede voel met haar eerste buiging op senior vlak. Riette Heyns van Noordwes het hier die titel met ‘n stewige gooi van 55,32m ingepalm.
Dit het ook die hart verwarm, toe oud-Nellie Naas Marais, wat natuurlik eweneens ‘n produk van NHS se worpe-‘fabriek’ is, ‘n silwer medalje in die skyfwerp vir mans (53,61m) verower het.
So is die gordyn dan oor 2021 se somer-atletiekseisoen toegetrek. Groot dank en waardering aan elke atletiek-administrateur, afrigter en atleet wat dit ‘n seisoen gemaak het wat nog lank onthou sal word!