27 Jan Opwindende krieket lê voor vir afrigter en akademie
Vyf jaar gelede het mnr. Johan Rudolph, of eerder ”coach” Jo, hom in die Laeveld kom tuismaak. Hy is bekend vir sy uitmuntende werk as krieketafrigter, maar wat min mense weet, is dat hy self ‘n uithaler speler is! Hy het vir onder andere in die Easterns en die Northerns President spanne gespeel.
Dit kom dan as geen verrassing dat hy gekies is om Namibië se veteraan krieketspan te vertoonwoordig by die 50’s Krieket Wêreld Kampioenskappe nie. Hierdie internasionale toernooi gaan oor minder as ‘n maand plaasvind in Kaapstad. Namibië is in Poel B, en gaan te staan kom teen Pakistan, England, Suid-Afrika, Wallis en Indië. Johan sal te staan kom teen spelers soos Johnty Rhodes, Shailendra Singh en Giles Ecclestone.
“Hierdie is ‘n een in ‘n leeftyd geleentheid en ek sien baie uit daarna om deel te wees van die Namibiese span en om teen verskeie bekende internasionale spelers te speel,” sê Johan. Ter voorbereiding van die toernooi, oefen hy weekliks in die gimnasium en in die krieketnette. Hy reken dat die veldwerk die moeilikste uitdaging gaan wees vir die 50-jarige en ouer spelers.
Dit is nie al wat in 2020 vir Johan voorlê nie. Die Johan Rudolph Akademie het 140 aspirant krieketspelers, van gr.1 tot matriek, wat van Maandag tot Vrydag hard werk saam met hom en Xander Pitchers. Hier word daar weekliks hard geoefen aan tegnieke en ander vaardighede. “Jy hou net nooit op met leer nie. Krieket as ‘n sport groei en ontwikkel deurentyd. Dit verg baie geduld en harde werk, maar die belonging is om die vordering in elke individu te sien,” sê Johan.
Xander het ‘n jaar gelede by die akademie aangesluit. Sy eerste indrukke van Hoërskool Nelspruit en die fasiliteit was blywend. “My hart is gewen toe ek die eerste keer met die kinders begin werk het. Hulle is baie leergierig en nederig,” sê Xander. Tot dusver was dit vir hom ‘n groot hoogtepunt toe ‘n paar van sy o/13 seuns die Mpumalanga-span gehaal het.
Die twee stem saam dat die sukses van die akademie, goeie kommunikasie is. Die goeie verhouding wat gevorm word tussen die afrigters en spelers is besonders. “Ons gaan hierdie jaar aanhou en net verbeter.”
Die Johan Rudolph Akademie sien uit na die opgradering van die binnenshuise fasiliteite en die Laerskole T-20 toernooi, wat hulle vir die tweede keer gaan aanbied. “Verlede jaar was ‘n reuse sukses en vanjaar beloof weer ‘n uithaler toernooi! Indien jy belangstel om meer te weet van die akademie, kontak vir Johan Rudolph by 079-620-0604. Hy het nog plek vir spelers op Vrydae middae.