Oud-Nellie reik uit na haar gemeenskap

Oud-Nellie reik uit na haar gemeenskap

Tembe Cossa, ‘n oud-Nellie wat in 2018 gematrikuleer het, het gedurende die inperkingstyd die nood in haar gemeenskap, Mataffin, raakgesien.

Tembe weet hoe dit voel om deur moeilike omstandighede geraak te word en weet dat net een persoon nodig is om uit te reik na iemand anders om ‘n verskil te maak. Sy het daarom besluit dat sy ook ‘n verskil wil maak en nie meer net wil toekyk hoe ander sukkel nie. Sy sê: “In my hart het ek besef dat ek nie almal sal kan help nie, maar dat ek kan probeer om ten minste ‘n verskil te maak in ‘n paar meisies se lewens.”

Sy rig haar spesifiek op die nood van jong dames en die tekort aan fondse om basiese sanitêre produkte te koop.

Sy het Hoërskool Nelspruit se ondersteuningsdienste om hulp gevra. Sy sê: “Ek het saam met my boetie gebly toe ek op skool was en dit was moeilik om my behoeftes met hom te bespreek. Die skool se ondersteuningsdienste het my gedurende dié tyd ondersteun en het aan my behoeftes voorsien.”

Tembe se End Period Poverty SA-projek het almal by NHS opgewonde gemaak. Saam met die Nellie Hart, ondersteuningsdienste en SPAR DC Nelspruit is daar genoeg toiletware soos handewasseep, deodorant en sanitêre doekies vir ‘n groep skooldogters van Mataffin bymekaar gemaak.

Hierdie donasie is aan die dogters op Mandela-dag, Saterdag 18 Julie gegee. Tembe het haar storie met die meisies gedeel om hulle te bemoedig. Sy vertel dat sy ook swaar gekry het, maar dat sy hard gewerk het en goed gedoen het ten spyte van haar moeilike omstandighede. Sy het hulle aangemoedig om die geleenthede wat hulle ontvang, aan te gryp. Sy het hulle gevra om ook weer aan die gemeenskap en ander behoeftiges terug te gee. By Hoërskool Nelspruit is dit ‘n instelling om ‘n gesindheid van diensbaarheid te bewerkstellig en terug te ploeg in die gemeenskap.  Dié meisies het tydens hierdie geleentheid die daad by die woord gevoeg en die strate van Mataffin skoon gemaak.

Hierdie is net die begin van Tembe se End Period Poverty SA. Sy is aktief besig om fondse in te samel om sanitêre produkte aan te koop. Tembe se doelwit is om vir meer as net dié vyftig skooldogters sanitêre produkte te verskaf.

NHS het nie gehuiwer om die oud-Nellie te ondersteun nie. Die doel van Nellies Care en Nellie Hart is om ‘n daadwerklike verskil te maak in die omliggende omgewing. NHS wil die gemeenskap help – een uitreik op ‘n slag.

Kontak Faith Motau by fmotau@nelliesh.co.za vir meer inligting oor NHS se uitreikprojekte.