21 Jan Oud-Nellies verwelkom saam met nuwe personeel
Me. Diana Venter, ’n nuwe Wiskunde en AdMaths-onderwyseres afkomstig van Hoërskool Garsfontein in Pretoria, sê na haar eerste dag van somme doen saam met die Nellies: “Die skool is baie besig, maar die leerlinge is goed gemanierd, georganiseerd, geesdriftig en doelgerig. Sy is opgewonde oor hierdie nuwe ervarings wat NHS in haar lewe bring. Sy is getroud en is ’n ma van ’n elfjarige dogter. “Uniek en respek is twee woorde waaraan die Nellies my laat dink,” sê sy.
Mnr. Jacques Malan is ’n oud-Nellie wat in 2013 matriek geskryf het. Hy keer terug na NHS, vanaf Middelburg, om Tegnologie en Lewenswetenskappe aan te bied en rugby af te rig. Hy is nog ongetroud. “Besig, maar ‘great’” is die woorde wat hy gebruik om die skool te beskryf na sy eerste dag as personeellid.
Om die Nellies te beskryf haal hy dr. Louis Swanepoel, vorige hoof van NHS, aan met die woorde: “Dis hoendervleissake…” Hy verkies dit om ’n personeellid te wees, eerder as ’n leerling.
Hy sien baie uit na die sport vanjaar. As oud- Nellie sê hy: “Die skool het baie verander en die Kultuursentrum is een van die grootste verbeteringe.”
Hy beskryf NHS as “’n ‘great’ skool om by te werk” na sy eerste amptelike werksdag. Die Nellies kom vir hom baie dinamies voor.
“Die fasiliteite het baie verander en is baie beter as toe ek op skool was. Dit is nou van die bestes in die land,” sê hy. Hy is baie bly om te sien dat die waardes wat leerling leer by die skool nog steeds dieselfde is.
As hy kon kies om ’n leerling of ’n personeellid te wees sou hy eerder ’n leerling wees, want dit was vir hom van die beste jare van sy lewe.
Mnr. Willi Herb is afkomstig van Hoërskool Hoogenhout in Bethal. Hy is getroud en het ’n seuntjie van drie jaar.
“NHS is ’n baie bedrywige skool!” sê hy na sy eerste dag as nuwe Sosiale Wetenskap onderwyser vir graad 8 en 9. Die nuwe skool met al die nuwe uitdagings en ervarings wat daarmee gepaard gaan, maak hom opgewonde vir sy pad vorentoe by NHS.
Die eerste woord wat by hom opkom as hy aan die Nellies dink is: “Ongelooflik!”
Mnr. Leroux Jordaan, ‘n oud Hoërskool Driehoek-onderwyser, beskryf NHS as ‘n “goed-geoliede masjien met die vriendelikste en hulpvaardigste personeel denkbaar.” As hy die beeld wat die Nellies uitstraal in een woord kon opsom sal dit die woord “uitnemendheid” wees.
Hy bied Lewensoriëntering vir graad 8 en 10 aan en rig verspring en driesprong af. Daar is ’n opgewondenheid by hom oor hoe hy kinders se potensiaal kan ontwikkel in terme van akademie en veral in die sprongitems. Mnr. Jordaan sien daarna uit om vir leerders ondersteuning te gee met alledaagse kwessies wat hulle pla en om hul denkwyse te verbreed sodat hulle uit die boks kan dink. ’n Hoogtepunt vir hom van sy koshuisinwoning is dat hy nie meer self hoef kos te maak en skottelgoed te was nie! Dit was vir hom as enkellopende ’n enorme straf.
Die Nellies is baie opgewonde oor die nuwe personeel en verwelkom hulle met ope arms om deel te word van die Nellie-familie.