Paasfees boodskap

Paasfees boodskap

PAASFEES! Jippie!

Mag die jubel nie net wees oor ‘n lekker langnaweek van rus nie, maar mag dit wees oor die REDE en BETEKENIS van Paasfees.

Die oorsprong is van Pasga af. Ons is almal vertroud met die storie uit die Ou Testament waar God die Israeliete uit Egipte, hul plek van slawerny, vrygemaak het. Die Israeliete moes die bloed van ‘n lam, sonder gebrek, aan hul deurkosyne smeer sodat sodat die dood hulle “oorslaan”.  Hulle moes dit jaarliks vier, tydens Pasga, uit dankbaarheid van God se redding vir hulle.

Net soos die Israeliete van die Ou Testament, is ons in slawerny – vasgevang in sonde en verdien om gestraf te word.

Hier volg nou ons rede vir jubel en juig oor Paasfees:
In die Nuwe Testament, toe Johannes die Doper vir Jesus sien, het hy gesê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Petrus het in 1 Petrus 1:19 gesê dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van Jesus, die Lam sonder gebrek.  In Jesaja 53 staan daar dat dit God se wil was dat Jesus moes ly, want Hy is gestraf IN ONS PLEK en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Waarom sou God dit doen?  “Want God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” ( Joh.3:16)

Jippie! God het jóú so lief dat Jesus, die Paaslam (1 Kor.5:7), se bloed vir jóú gevloei het en dat die ewige dood jou “oorslaan”!

Daar is nóg ‘n GROOT rede vir jubel en juig:  Ná Jesus se kruisdood, het Hy op die derde dag opgestaan uit die dood. Hy het die dood oorwin! Romeine 8 sê ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Ons kan ons slegte gewoontes, ons vrese, ons bekommernisse oorwin DEUR Hom en IN Sy oorwinningskrag! Ons leef voorwaar vandag in moeilike tye, maar in Joh.16:33 sê Jesus vir ons: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou goeie moed:  Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Jippie! Paasfees is ‘n tyd van HOOP en OORWINNING oor alles wat Jesus vir ons kom doen het en steeds doen!  Mag elkeen ‘n geseënde Paasfees saam met julle geliefdes beleef.

Spesiaal geskryf deur: Vicky Sevenster (Ma’s wat Bid)