Puik tennisprestasie vir NHS se Arili Boshoff

Puik tennisprestasie vir NHS se Arili Boshoff

As nr.1 in Mpumalanga se tennisspan wat onlangs aan die nasionale skoletoernooi deelgeneem het, het Arili Boshoff, een van Hoërskool Nelspruit se groot uitblinkers op die tennisbaan, die afdeling vir meisies 17 absoluut oorheers. Sy het al haar kragmetings in die enkelspel gewen, en in meisies- en gemengde dubbels, net een wedstryd afgestaan! Hierdie skitterende prestasies is beloon toe Arili na afloop van die toernooi, as lid van die Suid-Afrikaanse skolespan verkies is.

Arili, wat telkens teen die ander provinsies se beste moes speel, het agtereenvolgens vir Lizzy Knoessen (Noord-Kaap), Isabella Basson (Gauteng-Noord A), Kaitlin Ramduth (KZN A), Marie-Sophie Heckel (Noordwes) en Shazneen Kholvadia (Oos-Gauteng) met die kous oor die kop huis toe gestuur. Dit was veral die kragmeting teen die hoogaangeskrewe Kaitlin Ramduth, wat die tonge los gehad het. Ramduth is een van ons land se beste en belowendste jong tennissterre, wat al verskeie oorsese toere meegemaak en Suid-Afrika op die internasionale verhoog verteenwoordig het. Die Nelspruiter laat haar egter nie deur al die loftuitinge van stryk bring nie, en die finale telling van 6/3, 6/4 is ‘n duidelike bewys dat Arili deurgaans in beheer was. Dit was dan ook Kaitlin se enigste nederlaag in die toernooi.

In die dubbelspel, is ses wedstryde gespeel. Saam met Chizelle Rossouw, was Arili vyf keer in die meisiesdubbels aan die wenkant. So ook in die gemengde dubbels, waar sy en spanmaat Heinrich Rootman (wat ook in die nasionale onder 17-span opgeneem is), ook slegs een keer die knie moes buig.

Arili kom uit ‘n bekende Laeveld-tennisfamilie, met Pa Pieter en Ma Jeanetta Boshoff, wat vir jare al Nelspruit se bane aan die brand speel. Ouma Sophie Putter was ook op haar dag ‘n gerekende liga-speler, en kleinsus Joslin is ook ‘n kranige sportmeisie. Verder, is Arili ook ‘n veelsydige sportvrou wat vroeër vanjaar die 100m vir meisies 17, op die jaarlikse Laeveld vriend-skaplike interhoër, gewen het.

Arili se prestasies, herinner aan die jare toe nog twee Nellies, Leoni Weirich en Tharina Steenkamp, ook SA-kampioene was. Neem gerus kennis van die naam Arili Boshoff – sy gaan D.V. vir nog vele ander groot prestasies op die tennisbane sorg!

 

Artikel: Mnr. Kobus de Wet
Foto: Hennie Homann