17 Oct Raakpraters 2019
Die redenaars-en debatsvereniging het op Woensdag 16 Oktober ‘n heerlike afsluiting na ‘n jaar vol prestasies in Café Duet op die skoolterrein gehou. Die klomp raakpraters het vanjaar aan ‘n verskeidenheid kompetisies deelgeneem.
Die jaar het afgeskop met n vierde plek in Agenda-debat -‘n uitnodigingskompetisie tussen die top 8 debatskole in die noorde van die land. ‘n Junior en ‘n senior debatspan het aan die nasionale finaal van die ATKV debatskompetisie deelgeneem. Die senior span het nasionaal vyfde in dié kompetisie geëindig.
Tien debatspanne het aan die Dink of Sink debat deelgeneem en een senior debatspan eindig tweede in die Noordstreek. Dertig leerders het aktief aan debat deelgeneem. Die vyf en veertig redenaars het nie op hulle laat wag nie en uitstekende prestasies is behaal. Ernst Pieterse het tweede nasionaal in die onvoorbereide afdeling van ATKV redenaars geëindig. Anke Oelofse en Anthony Mabuza het ook deurgedring na die nasionale ronde van die kompetisie.
Tydens die nasionale ronde van Oppitong redenaars eindig Ernst Pieterse eerste in Golden Tongue
tweede in Persuasive Speech en derde in Oorredingstoespraak. Dawie van Heerden in graad 10 eindig derde en Niandi Coetzee eindig vierde in Oorredingstoepraak. Sestien Nellies het aan die nasionale finaal van Radikale redenaars deelgeneem. Milla Nel eindig eerste en nog ses Nellies eindig in tweede plekke, drie in derde plekke en twee in vierde plekke.
Voorwaar ‘n klomp praters om op trots te wees!