26 Apr Rhinos is terug in aksie
NHS se eerste rugbyspan het tydens die Monnas Eeufees-rugbytoernooi teen Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Noord-Kaap te staan gekom.
Die eerste wedstryd teen die Garsies het Vrydag, 23 April, plaasgevind. Die wedstryd het redelik goed begin, maar 10 minute in speeltyd het twee beserings, die van Ruben Gründling met harsingskudding en Christo Nel se sleutelbeenbreuk, die Nellies ‘n groot terugslag toegedien. Die span was genoodsaak om sonder dié twee staatmakers te speel en moes aanpas by die spel. Halftyd was die telling 19-0 in die opponente se guns.
In die tweede helfde het Quinn van Zyl twee drieë aangeteken en vir die Rhinos punte op die telbord geplaas. Christiaan Gates het geslaag om albei doelskoppe en ‘n strafskop oor die pale te kry.
“Ons het nie genoeg reserwes gehad om die twee senters te vervang nie. Van die spelers moes in ander posisies speel en dit het veroorsaak dat ons ongelukkig momentum tydens die spel verloor het,” sê mnr. Chris Mans, hulpafrigter. “Dit was tough, maar die spelers het karakter gewys.”
Die Rhinos verloor die eerste wedstryd 33-17.
Die tweede wedstryd teen Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley het met ‘n vinnige pas begin. Die Rhinos het twee prag drieë gedruk en die telling was 14-0 na die eerste paar minute. Noord-Kaap het stelselmatig terug in die spel gekom en halftyd was die telling 17 elk.
Die Nellies se puik verdediging in die tweede helfde het die opponente na binne forseer. Noord-Kaap het balbesit verloor en Christiaan Gates, losskakel, het sy kans met strafskoppe benut. Hy het 25 van die Nellies se 40 punte aangeteken. Hy is ook as speler van die wedstryd aangewys. Die oomblik van die wedstryd gaan aan Ricardo Correia met sy skitterende drie. Werner Geldenhuys het die ander drie aangeteken en die dryfdrie is deur Quinn van Zyl gedruk.
Die Rhinos wen die wedstryd met 40-24.
Hierdie voorseisoen wedstryde het vir die Rhinos die geleentheid gebied om hulle litte los te maak en goed voor te berei vir die komende wintersport-seisoen. Besoek gerus DigiTV SA om na die uitsendings van hierdie wedstryde te kyk.
Foto’s: Johan Orton