19 May Rugby-tuiswedstryde met goeie uitslae beklink
Vir die eerste keer sedert skolesport weens die Covid-19 pandemie gestop is, is daar weer kompeterend rugby op NHS se tuisveld gespeel. Op Saterdag, 15 Mei het NHS teen Transvalia in die eerste wedstryde van die Noordvaal Virsekerbeker se Bekerkompetisie te staan gekom.
Duisende toeskouers het op DigiTV ingeskakel en die A-span wedstryde regstreeks gekyk. Daar was hierdie keer ook deurentyd kommentaar gelewer. PJ Coetzee en Christo Nel, albei graad 12-leerders wat op die Rhinos se krukkelys is, het ‘n uitstekende taak verrig. Hulle kennis en entoesiasme is aansteeklik.
Behalwe vir die o/15’s wat gelykop 14-14 gespeel het en die tweedespan wat met 12-13 verloor het, het al die ander spanne gewen.
Uitslae:
o/14A wen 40-10
o/14B wen 31-14
o/14C wen 38-0
o/15A gelyk 14-14
o/15B wen 50-0
o/16A wen 22-7
o/16B wen 18-12
2de verloor 12-13
1ste wen 42-3
Albei skole se eerstespanne was vuur en vlam vir hierdie kragmeting. Die wedstryd was fisies en taai vandat die beginfluitjie geblaas is. Die Laeveld-hitte het die besoekers stelselmatig uitgeput en het daartoe gelei dat Transvalia se span heelwat foute gemaak het. Ten spyte van die goeie skrumwerk en lynstane van die opponente het die Nellies net meer balbesit gehad en minder foute begaan. Die staatmaker, Christiaan Gates, het 22 van die 42 punte aangeteken. Hy het ook twee drieë gedruk en is as speler van die wedstryd aangewys. “Hy is ‘n begaafde speler en definitief iemand wat in die toekoms dopgehou moet word,” sê mnr Chris Mans die span se afrigter. Nog ‘n speler wat uitgeblink het, was Henru van der Merwe met sy kraglopies.
Hierdie wedstryde is op die NellieTV-kanaal beskikbaar. Gaan kyk gerus hoe die Nellies gespeel het.
Die volgende kragmeting is teen Hoërskool Middelburg te Nelspruit. Die skakel na die regstreekse uitsending sal op NHS se Facebook-bladsy beskikbaar wees.