24 Apr Shanese van NHS nou nr.1 in die RSA, junior EN senior!
Om as jeugatleet (meisies 17) ‘n nasionale SENIOR titel op die atletiekbaan of -veld te verower, is gewis ‘n fenomenale prestasie! Dit is presies wat Hoërskool Nelspruit se Shanese de Clerck verlede Donderdag (21 April) vermag het toe sy tydens die SA Senior Atletiekkampioenskappe in Kaapstad, die goue medalje voor die neuse van al ons land se beste hoogspringers weggeraap het. Haar wen-hoogte van 1,78m is ook ‘n 1cm hoër as die vorige beste hoogte in die land tot dusver vanjaar, naamlik Yvonne Robson (senior atleet van Gauteng-Noord) se 1,77m.
Shanese het vanjaar, as lid van die provinsiale span (Mpumalanga), aan al drie die nasionale byeenkomste deelgeneem, waar sy telkens op die podium gestaan het. By die skolekampioenskappe te Germiston, het sy goud gewen toe sy op ‘n uitstekende 1,75m oor die dwarslat geseil het. Daarna was hierdie kranige atleet op Potchefstroom in aksie, waar sy by ASA se nasionale Junior (onder 20) en Jeug (onder 18) byeenkoms silwer met ‘n hoogte van 1,70m ingepalm het. Dit was dieselfde hoogte waarmee Garsfontein se Mia J.van Rensburg goud gewen het. In Kaapstad, kon Mia net 1,68m haal, en moes Shanese sake teen me Robson en nog ‘n Noord-Gautenger, Margaret Ngozo, om die medalje-posisies uitspook. Toestande by die kus is nie ideaal vir hoogspringers nie, en in die lastige wind, kon slegs die twee senior atlete van Pretoria, en Shanese op 1,73m slaag. Die dwarslat is toe na 1,78m opgeskuif. Robson en Ngozo spog albei met ‘n 1,80m wat hulle in 2021 vermag het, en die druk was gevolglik vierkantig op Shanese se skraal skouers. Toe die senior dames met al drie hulle pogings faal, het die Laevelder vasgebyt en diep gedelf. Haar wen-sprong op 1,78m was suiwer en sierlik – en ‘n nuwe hoogspringsensasie is gebore! Dit is natuurlik ‘n nuwe Nellie-rekord, asook die hoogste wat ‘n meisie van die Laeveld nog ooit kon spring.
Shanese is ‘n veelsydige atleet, wat byvoorbeeld by NHS se interhuis vanjaar, puik afstande in verspring (5,72m) en 11,69m (driesprong) behaal het. Hierdie afstande sou haar ook in hierdie items, medaljes by die nasionale junior-byeenkomste besorg het. Sy is verder ook ‘n uithalernaelloopster, wat by verskeie geleenthede vir NHS in die 100m geskitter het.
Volgende jaar neem Shanese in die ouderdomsgroep meisies 19 deel. Een van haar eerste mikpunte is sekerlik die Laveld-interhoërrekord wat al vir 36 jaar agter die naam van Marina Mulder van Barberton pryk. Marina was in 1984 die SA onder 16-kampioen, en het in haar matriekjaar (1986) die item by daardie jaar se interhoër, met ‘n hoogte van 1,72m gewen.
Rhodé Nel en Handré vd Merwe was ook in Kaapstad in aksie, om hulself teen die ‘ooms en tannies’ te gaan meet. Beide het getoon dat hulle reg is om D.V. In die nuwe jaar, suksesvol in senior geledere te kan deelneem. Rhodé was derde in haar uitdun van die 100m (12.12 sek.) en vierde in die semi-finaal (12.36 sek.). Handré se 52.91 sek. In die 400m hekkies, het hom vierde in sy uitdun geplaas, en hy het net-net nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.
Spiesgooiers Phil-Mar van Rensburg en Connor Barnes, Laevelders wat ook deur mnr. DP Badenhorst afgerig word en by NHS geoefen het, het onderskeidelik tweede (75,40m) en vierde (59,78m) geëindig. Phil-Mar, ‘n tweemaal voormalige SA-kampioen, het byna goud gewen, deur nie ver agter die uiteindelike wenner, Noordwes se Johan Grobler (75,93m), te eindig nie.