24 Apr Silwer vir NHS se raketswaaiers op Potchefstroom
Dit was ‘n baie opgewonde, blinkoog-tennisspan wat Vrydag 13 April teruggekeer het huis toe, nadat hulle die skool se tennis-eer by die jaarlikse NWU-reeks gaan verdedig het. Die silwer (onder 15’s) en brons (bo 15’s) medaljes wat met trots om die nekke vertoon is, het die suksesverhaal van deelname aan die 2022-toernooi, vertel. Algeheel (juniors en seniors saam) het Hoërskool Nelspruit vanjaar tweede geëindig, en so waardevolle punte in die afdeling vir kleiner sportsoorte, vir die skool ingeoes.
Die spelers is vergesel deur die organiseerder, mev. Charlotte Fourie; tennis-spesialis/afrigter mnr. Schalk Schutte; en mnr. AJ Jacobs, wat merendeels vir die onder 15’s verantwoordelik was.
In die onder 15-afdeling is die Nellies (wat die uiteindelike totaal betref) slegs deur Menlopark geklop – al het eersgenoemde in die wedsdtryd tussen hierdie twee sterk spanne, met 12-6 gewen. In die derdeplek was Klerksdorp, gevolg deur Transvalia, Kemptonpark en Monument.
In die afdeling vir seniors, het Menlopark net te veel skietgoed vir NHS en die ander spanne gehad, en goud gewen. Die Laevelders moes sake met Garsfontein uitspook, om te bepaal wie silwer, en wie brons sou wen, nadat beide spanne teen Klerksdorp, HTS Middelburg, Kemptonpark, Monument en Transvaila, aan die wenkant was. Met die SA Skolekampioen, Arili Boshoff, aan die spits, het die Nellies se meisies drie van die vier enkels gewen, asook beide dubbels. Garsfontein se seuns was egter in ‘n vernietigende bui, en wen al hulle wedstryde, vier enkels en twee dubbels. So eindig die Garsies dan vanjaar tweede, met Nellies in die derdeplek (brons).
Vir die kleiner sportsoorte se kompetisie (sluit ook landloop, skaak, gholf en muurbal in), is die twee afdelings, onder en bo 15, se punte bymekaar getel. Danksy die juniors se sterk vertoning, verower Hoërskool Nelspruit se tennisspanne dan vanjaar ‘n algehele tweedeplek, na Menlopark. Klerksdorp was derde, en na hulle (in punte-volgorde) Kemptonpark, Transvalia, Garsfontein, Monument en HTS Middelburg.
Baie geluk aan die volgende spelers, wat elk met ‘n blink medalje kan spog:
Bo 15 Seuns: Michiel Eksteen, Dian Venter, Luhan van Wyk, Xander Combrinck, Leonard du Plessis
Meisies: Arili Boshoff, Lize Oosthuizen, Tammy Fourie, Danielle Lombard, Kristen Lombard
Onder 15 Seuns: Christiaan Bezuidenhout, Gideon Coetzer, Ettienne Swart, Reinhardt Grobler, Pascal Middelburg
Meisies: Joslin Boshoff, Chané Steyn, Elané Eksteen, Azelle du Preez, Miré Grobler