Skool neem afskeid van meneer Hartman

Skool neem afskeid van meneer Hartman

Meneer Kobus Hartman het aan die einde van die vierde kwartaal, die aanstelling as skoolhoof van Hoërskool Boland Landbou aanvaar. Die aankondiging het gekom enkele dae voor die skool vir die Desember vakansie gesluit het. Beperkte tyd het dit nie toegelaat om behoorlik afskeid van die Hartman-gesin te neem nie.

Mnr. Hartman het gelukkig ’n tydjie kon afknyp en het vroeg in die eerste kwartaal die Laeveld besoek. Die personeel het nie op hulle laat wag nie en ‘n spesiale funksie is gereël om mnr. Hartman op ‘n gepaste wyse te groet en te bedank vir sy uitmuntende diens as onderwyser, koshuisvader en adjunkhoof by NHS. “Dit het vir my gevoel soos ‘n tuiskoms,” sê Hartman. Personeel en spesiale vriende het Donderdag, 13 Februarie saam met Kobus by Friends Café gekuier.

Mnr. Johan Hattingh het ’n oomblik geneem om die diep spore wat Kobus by die NHS gelaat het te beklemtoon en hom sterkte toegewens vir dit wat hy nou moet aanpak. Kobus het ‘n terugblik gegee van sy tyd by NHS en wat dit vir hom beteken het. Hy het ook bietjie meer vertel van sy nuwe rol as die hoof van Boland Landbou. Dit was dan ook nog nie die laaste afskeidsfunksie vir Kobus nie.

Die dames van Huis Maré het die volgende oggend ‘n heerlike Valentynsontbyt vir hom voorgesit. Mnr. Hartman het gesê dat dit van die eerste intrapslag vir hom ’n emosionele oomblik was. Dit was ook baie hartseer vir die meisies om afskeid te neem van die koshuisvader wat vir soveel jare betrokke was by hulle doen en late.

Mnr. Hartman se omgee, geloof en standvastigheid gaan beslis gemis word. Soos wat dié hoofstuk van die Hartmans by NHS tot ‘n einde gekom het, het ’n nuwe een nou vir hulle aangebreek. Ons wens hom en sy gesin baie sterkte en vreugde toe.