30 Aug Skooljare gevier by matriekafskeid
Hoërskool Nelspruit se matrikulante het Saterdag 29 Julie hul matriekafskeid by Arch & Arrow gevier.
Die leerders het by die skool met formele drag en ‘n verskeidenheid van spogmotors opgedaag. Daarna is hulle per bus vervoer na die onthaal wat deur die graad 11-leerders en hul ouers opgemaak is. Die swart-en-wit tema van die aand is met kreatiwiteit en elegansie uitgebeeld.
Die hoogtepunt van die aand was beslis die voortreflike ete wat aan die matrikulante voorgesit is. Hulle het elke oomblik van hierdie spesiale aand voluit geniet, terwyl hulle gekuier en gedans het om die afsluiting van hul skooljare te vier.
Die sukses van hierdie asemrowende aand is te danke aan die harde werk en toewyding van die graad 11 matriek-komitee en me. Bessie Breytenbach, die organiseerder van die aand. Die skool wil ook graag hul opregte dank uitspreek teenoor die borge wat dié geleentheid mede moontlik gemaak het. Hierdie ondersteuning is onmisbaar om sulke onvergeetlike geleenthede te laat realiseer.