26 Aug Skouspel 2021 – Manjifiek!
NHS se revue as spogproduksie het oor die jare een van die grootste geleenthede op die plaaslike sosiale kalender geword. Kaartjies vir hierdie vertonings het soos soetkoek verkoop en was in ‘n oogwink uitverkoop. Die produksiespan het maande voor die geleentheid al begin met die beplanning van die vertonings. Dit begin met oudisies, die choreografie van danse, opneem van liedjies, maak van kostuums, oefenkampe, beplanning van die teaterstel en dan oefen en oefen en nog méér oefen. Uiteindelik was dit dan teaterweek wat afgesluit is met ‘n glansryke en opwindende gala-aand.
Die 25ste produksie is in 2020 in die wiele gery deur die begin van die Covid-19 pandemie. Vir die eerste keer in 24 jaar was dit nie moontlik om hierdie produksie aan te bied nie. Dit het egter nie die geesdrif van die produksiespan gebreek nie. Te midde van talle uitdagings wat oor die pad gerol het, het hulle deurgedruk en hard geoefen om dit moontlik te maak om die revue tog in 2021 aan te bied.
Me. Ezette Mans (produksiebestuurder) en me. Hené Swanepoel (choreografierepetiteur) saam met Signature Performing Arts & Theatre Technology het elke detail van die vertoning haarfyn beplan, met Covid-19 protokol in plek. Dit het maande se beplanning en harde werk geverg om hierdie produksie op die planke te bring. Nog ‘n groot uitdaging was die maak van die verskillende deelnemers se kostuums. Me. Zandra van der Merwe het die groot taak van kostumering behartig en ‘n puik werk gedoen.
Een van die groot veranderinge aan hierdie jaar se unieke revue is die teaterstel. Hierdie stel is met vele mannekrag in NHS se skoolsaal opgerig. Die hele produksie is toe in die hartklop van Hoërskool Nelspruit opgeneem.
Op Saterdag 21 Augustus is Skouspel 2021 vir die eerste keer eenmalig regstreeks gestroom. Die vertoning het alle verwagtinge oortref! Talentvolle sangers het in stylvolle kostuums ‘n keurspel van musiektreffers gesing terwyl die dansers passievol en grasieus beweeg het en die kykers op die punte van hul stoele gehou het.
Na afloop van die rooitapyt-geleentheid is die volgende toekennings oorhanding:
SIGNATURE-TROFEË:
- Beste danser seun: Christo Theron
- Beste danser dogter: Jodi dos Santos
- Beste sanger seun: Berno Venter
- Beste sanger dogter: Zimri Leuvennink
NHS-TROFEË:
- 5 jaar lid: Hanjo Sevenster
- Beste nuweling: Aldo Muller
- Beste kunstenaar seun: Hanjo Sevenster
- Beste kunstenaar dogter: Chevonne Sevenster
NHS het ook ‘n spesiale toekenning aan mnr. Johan Ferreira vir sy 20 jaar betrokkenheid by NHS se revue oorhandig.
NHS bedank graag vir Signature Performing Arts & Theatre Technology en vir die volgende borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het:
Discovery
Standard Bank
PBS Chartered Accountants
Precision Loss Adjusters
BWT
Oasis
BUCO
McDonald’s
Chill Pepper Boutique Hotel
HH Photography & Design
Salsa Mexican Grill
Masquerade
Chippo’s
Radio Laeveld 100.5FM
Steers
Duet Café
The Daily Coffee Café