16 Aug So ‘n Nellie-bek moet jêm kry
Tydens die afgelope ATKV-Redenaarskompetisie het die Nellies uitstekend presteer. Ten spyte van vele uitdagings met die reisverbod het die ATKV vanjaar ‘n haas uit die hoed gepluk en kon die deelname aanlyn plaasvind.
In die Senior Huistaal-afdeling was 5 van die top 10 redenaars in Mpumalanga NHS-leerders. Cornelis van Dyk (gr.10) het as wenner uit die stryd getree met sy toespraak: Stilbly is kos vir verval. Kort op sy hakke in die tweede plek het Naomi van der Nest, Dux 2021, dit onomwonde gestel dat daar nie ‘n alternatief vir verantwoordelike vaderskap is nie. Jeané Strydom (gr.11) het ‘n vierde plek losgepraat, met Anke Oelofse (gr.11) en Andrich Eloff (gr.10) wat onderskeidelik in die sewende en tiende plek geëindig het. Cornelis het ook uit die meer as duisend seniors in die vyftiende plek nasionaal gelê. Naomi was ook onder die top 100.
In die Senior Addisionele Taal-afdeling het NHS se Amenda Bunting (gr.12) haar uitstekend van haar taak gekwyt om die gehoor te oortuig dat tieners se alternatiewe benadering goud werd is en daarmee as wenner uit die stryd getree. Siné Repinga ook in graad 12 het tweede geëindig met Anthony Mabuza in die derde plek. Dié drie oulike leerders eindig ook vanjaar in die top 20 nasionaal. Amenda wat al reeds voorheen twee maal in die nasionale finaal deelgeneem het, eindig vanjaar vyfde nasionaal met Siné in die negende plek. Anthony Mabuza het “per ongeluk” begin redenaars praat in graad 9 toe die skool se redenaarsorganiseerder ‘n toespraak oor rugby gehad het en ‘n spreker gesoek het wie se lyf by die toespraak pas. “Dit was die eerste keer wat Anthony aan redenaars deelgeneem het en hy was so oulik dat hy homself tot in die finaal gepraat het en daarna was daar nie keer aan hom nie,” vertel me. Magda van der Merwe. “Dit was vir my en me. Frances van Niekerk, drama-afrigter, so mooi om te sien hoe harde werk beloon word.” Vanjaar was sy onderwerp: Om alewig die bobbejaan agter die bult van 2020 te gaan haal, erodeer geluk in 2021!
Die juniors het nie op hulle laat wag nie en die kranige spreker, Francois Louw in graad 8, het met sy toespraak, Afronding bepaal die waarde, nie deugsaamheid nie, eerste in die Afrikaans Huistaal-afdeling in Mpumalanga gekom. Nina Prinsloo, ook in graad 8, het die agtste plek hare gemaak.
Hoërskool Nelspruit besef al vir jare die waarde van goeie praatvermoë en dit is ‘n voorreg en ‘n vreugde wanneer die leerders op hierdie gebied presteer.
Uitslae:
AFRIKAANS HUISTAAL JUNIORS
MPUMALANGA TOP 10
1. Francois Louw (Gr.8)
8. Nina Prinsloo (Gr.8)
AFRIKAANS ADDISIONELE TAAL SENIORS MPUMALANGA TOP 10
1. Amenda Bunting (Gr.12)
2. Siné Repinga (Gr.12)
3. Anthony Mabuza (Gr.11)
NASIONAAL TOP 20
5. Amenda Bunting (Gr.12)
9. Siné Repinga (Gr.12)
18. Anthony Mabuza (Gr.11)
AFRIKAANS HUISTAAL SENIORS MPUMALANGA TOP 10
1. Cornelis van Dyk (Gr.10)
2. Naomi van der Nest (Gr.12)
4. Jeané Strydom (Gr.11)
7. Anke Oelofse (Gr.11)
10. Andrich Eloff (Gr.10)
NASIONAAL TOP 100
15. Cornelis van Dyk (Gr.10)
66. Naomi van der Nest (Gr.12)