25 Oct Top 10 – posisie vir NHS se atlete in Limpopo!
Talle oud-Nellies sal kan getuig dat hulle van hulle beste atletiekprestasies, by die jaarlikse Elardus Erasmus Top 20 byeenkoms op Mookghopong (Naboomspruit) gelewer het. Vanjaar was dit weer sulke tyd, toe Hoërskool Nelspruit vir die tweede agtereenvolgende naweek die bestes onder die sterkste atletiekskole noord van die Vaalrivier, aldaar die stryd aangesê het. ‘n Nie-amptelike nuwe SA-rekord en ‘n handvol nuwe Nellie-rekords en persoonlike beste prestasies, getuig van die ywer en Nellie-‘guts’ waarmee meegeding is.
Vanjaar het 36 spanne vir dié gesogte byeenkoms ingeskryf. Die Laeveld was goed verteenwoordig met NHS, Rob Ferreira en Lydenburg wat hul slag gaan toon het. Nelspruit se meisies (8900 ASA-punte) het ‘n uitstekende sesde plek behaal, met die seuns (8504) in die elfde posisie. Gesamentlik, eindig NHS op nr.9 met ‘n totaal van 17404 punte. Net Randburg (17354) en Monument (17312) kon, saam met die ander boonste spanne, meer as 1700 punte insamel. Die eerste drie posisies is ingeneem deur Menlopark (18876), Prestige College (18640) en Helpmekaar (17955). Lydenburg (14746) kon net-net daarin slaag om Rob Ferreira (14474) te troef.
Lig die hoed hoog vir Juané le Roux, NHS se blink Paralimpiese atleet! Juané het Saterdag met ‘n prag-afstand van 33,32m in skyfwerp (m.14), ‘n nuwe nie-amptelike nasionale rekord in die F46- klassifikasie vir gestremde atlete, opgestel! Met hierdie afstand, beklee sy dan ook die nr.1 – posisie vir alle ouderdomsgroepe met die 1 kg-skyf, ter wêreld! Net Japan se Yukiko Saito (29,17m) en Ecuador se Seneida Rodriguez (28,76m) is tans enigsins kompetisie vir Juané – en beide is veel ouer as sy!
Ashley Erasmus (m.16) was weer op haar stukke, en wen die gewigstoot met ‘n blinknuwe Nellie-rekord van 17,54m, wat haar vorige rekord vir m.16 met 47 cm oortref. Sy is tans ook die enigste van haar ouderdom in die land, wat verder as 17m met die 3kg-gewig kan stoot. Hierdie puik afstand het ‘n voltal van 1000 punte by NHS se totaal gevoeg. Haar 987 punte in skyfwerp (45,01m) was NHS se tweede beste prestasie by die byeenkoms. Onder die seuns, het Handré vd Merwe gewis die pas aangegee, toe hy in beide hekkieswedlope (s.17) meer as 900 punte verdien het. Sy wentyd van 53.03 in die 400m hekkies, het Devon Nell se 2018-rekord van 53.83 uit die rekord-boeke gevee.
Wie wat dit beleef het, sal ooit die 1500m vir meisies 14 by 2006 se interhuis kan vergeet? Tessa Heystek en Elaine Smith het skouer aan skouer deur die wenpaal gebeur, en die oë het groot gerek toe die wentyd van 4:57.7 aangekondig is. Daar is allerweë verwag dat hierdie skitterende tyd vir 14-jariges vir ‘n baie, baie lang tyd in die boeke sou pryk. Saterdag het Sheba Sithole egter alle verwagtinge oortref, toe sy in ‘n blink tyd van 4:55.03 die rekord agter haar naam geskryf het.
Vaughn van Zyl se twee uithaler-prestasies in worpe, verdien beslis ook spesiale vermelding. Hy het in die afdeling vir seuns 14, gevat-vat aan die huishoudelike rekords. In gewigstoot was sy 15,15m binne trefafstand van Jaco Bischoff se 2007-rekord van 15,57m; terwyl Stefan Smit se skyfwerp-beste van 54,54m in 2014, ook binne bereik van Vaughn (52,56m) lyk.
Die standaard van NHS se vertonings, was veel hoër as die vorige naweek op Potchefstroom. Die volgende uitslae, almal prestasies bo 800 ASA-punte, is duidelike bewys:
Ashley Erasmus (m.16): gewigstoot – 17,54m (1000); ook skyfwerp – 45,01m (987)
Handré vd Merwe (s.17): 110m hekkies – 13.87 (924); ook 400m hekkies – 53.03 (902) Ongelukkig was die wind in die korthekkies te sterk vir rekorddoeleindes.
Rhodé Nel (m.19): 100m – 12.07 (wind te sterk) (887); ook 200m – 25.27 (863)
Zané Nel (m.14): gewigstoot – 12,62m (883); ook skyfwerp – 32,89m (833)
Vaughn van Zyl (s.14): skyfwerp – 52,56m (882): ook gewigstoot – 15,15m (851)
Marco Capazorio (s.17): 110m hekkies – 14.33 (874).
Hannes Botha (s.17): spiesgooi – 64,67m (871)
Tanya Pieterse (m.15): 400m – 59.32 (867); ook 200m – 26.65 (823)
Juané le Roux (m.14): gewigstoot – 12,03m (859); ook skyfwerp – 33,32m (840)
La-Alizia Venter (m.17): gewigstoot – 13,01m (858)
Sheba Sithole (m.14): 800m – 2:21.53 (850); ook 1500m – 4:55.03 (818)
Anja Venter (m.16): skyfwerp – 35,68m (846)
Simoné Lourens (m.14): 300m hekkies – 47.18 (843)
Ruben Vorster (s.16): 110m hekkies – 14.76 (832)
Shanré Ehlers (m.15): gewigstoot – 11,53m (824); ook skyfwerp – 32,22m (806)
Nog ‘n paar vertonings wat die oog gevang het, sluit in:
Hanlu Schoeman (s.14): 100m hekkies – 14.63 (791)
Ruan de Beer (s.15): 100m hekkies – 14.48 (781)
Alexandre Viljoen (s.17): 400m – 51.41 (783)
Ian Wood (s.15): 100m – 11.43 (767), en 200m – 23.73 (723)
Marco Mathee (s.15): verspring – 6,19m (780)
Marco Capazorio (s.17): 400m hekkies – 55.56 (794)
Anja Venter (m.16): gewigstoot – 10,99m (788)
Ruben Vorster (s.16): 400m hekkies – 58.63 (704)
Foto’s: Rhode Nel