Twee uit twee vir NHS by St John’s Rugbytoernooi

Twee uit twee vir NHS by St John’s Rugbytoernooi

Hoërskool Nelspruit se eerste rugbyspan het die afgelope Paasnaweek deelgeneem aan die St John’s Paasfees Rugbytoernooi in Johannesburg. Hierdie toernooi, wat vanjaar vir die 28ste keer aangebied is, bied 14 spanne van regoor die land die geleentheid om mekaar die stryd aan te sê.

Die Rhinos het in hul openingswedstryd teen Welkom Gimnasium gespeel. Dit was ’n harde stryd wat tot op die laaste oomblik vir opwinding gesorg het. ’n Strafskop deur Liam Pringle twee minute in ekstra tyd het die sege vir die Nellies verseël met ’n telling van 34–31.
Op Saterdag het die Nellies hul tweede agtereenvolgende oorwinning behaal, dié keer teen Maritzburg College, met nóg ’n opwindende wedstryd wat geëindig het in ’n 22–13 oorwinning.

Die twee oorwinnings was beslis ’n hoogtepunt vir die span en het NHS se deelname aan dié toernooi op ’n trotse noot afgesluit.
Spelers het hulself uitgedaag teen sterk kompetisie en waardevolle blootstelling gekry wat hulle sal kan oordra na die komende SDC Noordvaal-reeks.

Die afrigtingspan is trots op die groei wat die spelers wys in hul dissipline, spanwerk en sportmangees. Baie dankie aan die ouers en ondersteuners, wat saam gereis het en die span aangemoedig het.

Ons sien baie uit na wat hierdie rugbyseisoen nog vir ons inhou!