30 Aug Uitstaande prestasies by die Nasionale Finaal van die ATKV Redenaars
Drie talentvolle Nellies het deelgeneem aan die Nasionale Finaal van die ATKV Redenaarskompetisie wat op 17 Augustus by ATKV Goudini-Spa gehou is. Te midde van ‘n uitgesoekte geselskap van skole regoor Suid-Afrika het die leerders hul redenaarsvaardighede met fynheid en toewyding ten toon gestel.
Ronel Basson (graad 11), Nina Prinsloo (graad 10) en Marné Pretorius (graad 8), het die reis aangepak saam met me. Magda van der Merwe en me. Frances van Niekerk (afrigters) om nie net hul skool te verteenwoordig nie, maar ook om op nasionale vlak mee te ding. Hulle het beide voorbereid en onvoorbereide toesprake gelewer wat onderskeidelik 20% en 80% van die punte uitgemaak het.
Nina Prinsloo het ‘n derde plek in die finaal van die ATKV senior onvoorbereide redenaarskategorie verower. Hierdie merkwaardige prestasie spreek boekdele van Nina se welsprekendheid en vinnige denke.