
11 Sep Verjaardagvieringe bring groot vreugde
NHS se BK het Vrydag 10 September saam met die personeel en leerders mnr. Johan Hattingh (skoolhoof) se verjaarsdag gevier. Mnr. Hattingh het Donderdag 61 jaar oud geword.
Die rooitapyt is vir hierdie spesiale geleentheid uitgerol. Die hoof is met ‘n gholfkarretjie op die veld begelei en daarna het die leerders uit volle bors vir hom gesing. Die Dux’e was volgende aan die beurt en Rhodé Nel (Dux 2021/2022 het hom gelukgewens met hierdie woorde: “Wat ‘n voorreg om vandag vir Meneer geluk te sê met nog ‘n jaar waarmee die Here Meneer geseën het. Dankie vir al Meneer se omgee, liefde en passie vir die skool.” Paul Harley (Dux 2021/2022) het hierby aangelas en gesê: “Meneer, ons wens u en Juffrou Des ‘n wonderlike en geseënde dag en jaar toe. Dit is ‘n voorreg om u as hoof en mentor te mag hê. Dankie vir elke dag se wysheid, leiding en geduld. Dankie dat u elke dag vir die skool bid.”
Mnr. Hattingh het in sy spreekbeurt Liané Fouche (gr. 10), Zané Robbertze (gr.11) en Richard Dickson (gr.9) wat saam met hom hulle geboortedag herdenk, gelukgewens.
Na afloop van die formaliteite is daar ‘n vinnige gholfkompetisie gehou. Mnr. Hattingh, Wynand Loubser, Armin Mostert en Tammy Fourie is uitgedaag om ‘n gholfbal te slaan en so na as moontlik aan die gat te kry. Die beloning as een van die leerders sou wen, was ‘n langer pouse.
Dit was ‘n tawwe kompetisie, want mnr Hattingh is ‘n kranige gholfspeler. Die uiteindelike wenner was Wynand Loubser én natuurlik die skool met ‘n langer pouse!
Dié verjaarsdagvieringe het beslis groot vreugde vir die hele skool gebring.