
09 Oct Vier Nellies is Varsity Skole 7’s uitnodigingskampioene
Hierdie jaar het Varsity 7’s vier provinsiale spanne genooi om deel te neem aan ‘n skole rugbysewes toernooi by die Pirates klub in Johannesburg. Die vier provinsiale uitnodigingspanne sluit spelers van skole regoor Gauteng, Noordwes en Mpumalanga in, van Heidelberg Volkskool, Noordheuwel, Helpmekaar, Monument, Dr EG Jansen, Kempton Park, Hoërskool Middelburg, Hoërskool Nelspruit, Rob Ferreira, Steelcrest en HTS Middelburg.
Die vier Nellies wat Mpumalanga verteenwoordig het, is: Franco van Rooyen, Waldo Stoltz, Christiaan Gates en Leonard Bornman.
Tau (Gauteng) en Luiperds het die bal aan die rol gesit met die gashere wat net te sterk geblyk het vir die seuns van Noordwes te wees en het met 33-17 gewen. Die volgende wedstryd tussen die Pumas-Valke, was ‘n titaniese stryd, maar die seuns van Oos-Gauteng het uiteindelik met 25-19 geseëvier.
Die Pumas het ongelukkig nog ‘n wedstryd deur hulle vingers laat glip teen Tau met 19-12. Die Pumas was te goed vir die Luiperds en met hul sege van 35-14 met twee bonuspunte en ‘n positiewe doelverskil het hulle hulle plek in die finaal teen Tau verseker.
Die Pumas se Damien Markus het die eerste drie van die wedstryd gedruk. Tau het met ‘n blitsige aksie vinnig die telling na 12-5 opgestoot. Net voor rustyd het Waldo Stoltz ‘n drie gedruk en die telling 12-12 gelykop gemaak. Die tweede helfde het vinnige afgeskop en albei spanne het drieë gedruk, maar dit was uiteindelik die Pumas wat senuwees van staal gehad het en ‘n minuut voor die eindfluitjie nog 5 punte aangeteken het om uiteindelik die telling na 24-19 te neem.
Die span van Mpumalanga kraai hierdie jaar koning as die Skole 7’s Uitnodigingskampioene vir 2019.
Uitslae:
Tau 33 Luiperds 17
Pumas 19 Valke 24
Tau 19 Pumas 12
Luiperds 26 Valke 7
Tau 42 Valke 5
Pumas 35 Luiperds14
Tau 19 Pumas 24 (Finaal)