20 Oct Vinculum-tradisie voortgesit
Na afloop van die afsluitingsdiens vir die matrieks van 2020 het hulle die tradisie van die sluit van slotte aan die Vinculum-struktuur voortgesit. Die matrieks van 2018 het dié tradisie begin en die struktuur laat oprig. Elke matrikulant het ‘n goudkleurige slot aan die 2020 Vinculum-ketting gesluit. Hiermee sluit die Nellie sy kosbare kleinnood van kindwees af en met die onvermydelike progressie van tyd bind hulle hulself aan hul alma mater, Hoërskool Nelspruit. Die hoofleiers het digitale foto’s in die 2020-tydkapsule toegesluit en dit sal tydens hulle 10 jaar-reunie vertoon word.
Die graad 11’s het ‘n heerlike piekniek vir die groep gereël en na afloop van die slotseremonie het die gr.12’s vir oulaas ‘n hond uit ‘n bos gekuier voor die aanvang van die eindeksamen op Maandag 19 Oktober.