27 Mar Vir Oulaas…
Op Maandag, 24 Maart, het mnr. Hattingh vir oulaas die saalopening van NHS bygewoon.
Die kwartaal het vinnig verbygevlieg met vele hoogtepunte. Emma Snyman (Dux) het ’n terugblik gegee op die kwartaal wat verby is – van die inskakeling van die nuwe graad 8’s tot die oorwinning tydens Interhoër.
Sy het ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om mnr. Hattingh te groet. Sy het gesê dat dit ’n voorreg is om namens die leerders van die skool van Meneer afskeid te neem. Hy het ’n formidabele 40 jaar by NHS gehad, en min mense sal so iets in hul leeftyd kan bereik. Sy het verwys na sy leierskap tydens die Covid-pandemie en die moeilike besluite wat hy moes neem. En so kom hierdie hoofstuk tot ’n einde. “Ons gaan Meneer mis!”
Mnr. Hattingh het ook ’n kans gekry om met die leerders te gesels. Hy het sy passie vir wiskunde beklemtoon en vertel hoe hy vir 13 jaar huisvader by Huis Maré was. Gedurende hierdie tyd het hy saam met die dogters gedeel in hul lief en leed.
Hy het ook groot vreugde op die sportveld ervaar – van tennisprestasies tot op die krieketveld. Wat hom die meeste beïndruk het, was die inherente krag van die Nellie-kind – vasbyt, opstaan en Nellie-guts wys.
Vir 40 jaar het hy die Nellies beleef as NEXT LEVEL.
“Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie!”
Hy het sy toespraak afgesluit met die woorde:
“Dit was ’n voorreg om hoof van hierdie skool te wees en om deel van NHS te wees.”
Hierna het hy ’n staande applous ontvang.
Divan de Kock (Dux) het hierdie gedig as deel van sy toespraak gedeel:
Mnr het in sy 40 jare getrou bewys
Mnr sal ons belange altyd bo Mnr se eie hys
Van die Wiskundeklas
Tot op die krieketveld se gras,
Het mnr Hattingh lewens verander deur dade,
Hy het soos ‘n ware leier gedien, hy het voete gewas.
Elke woord , elke daad , gesmee in eer,
Skitter soos sterre in die hemelsfeer.
In elke oomblik, in vreugde en smart,
Bly integriteit die lied van Mnr se hart.
Daar waar Mnr nou gaan,
Waar die wind waai en Mnr gholfballe slaan.
Moet Mnr net altyd weet:
Mnr se voetspore lê diep in NHS getrap.
Hoërskool Nelspruit is nie baksteen mure nie,
Mnr se spore lê nie in die gange nie.
NHS is ons…
Mnr se spore lê in die laaste 40 jaar van ons
en waar ook al ons gaan, sal Mnr se voetspore volg.
Ek wil net hê Mnr moet besef
Die bus wat Mnr by die heuwel af bestuur het, is vol kinders , 40 jaar se leerders
wie se lewens Mnr gered het.
Al het dit die grooste opoffering vereis
Mnr het gedoen wat ander nie eers kan begryp.
Mnr het ten spyte van wat Mnr voel
ons op die regte pad gesit,
en ons oë gevestig op die einddoel.
Mnr is diep in ons harte in gegraveer
Nou moet ons ongelukkig groet vir ‘n laaste keer.
All wat daar oor is om te sê
IS ….
TOTSIENS MENEER.











