Welkom terug Nellies

Welkom terug Nellies

Opgewonde stemme, ietwat gedemp agter maskers, en jong lywe vol vreugde het Maandag, 15 Februarie, nuwe lewe aan die skoolgebou van NHS gegee. Die Nellies is by die skool met ope arms deur die personeel verwelkom. Dit is ook die graad 8’s wat met ‘n luide toejuiging welkom geheet is. Hierdie leerders kom van 15 verskillende laerskole en sal in die volgende drie weke onder leiding van die BK touwys gemaak word in die wel en weë van Nellie-wees.

Die hoofleiers, Naomi van der Nest en Ruben Gründlingh, het die leerders en personeel gegroet met treffende boodskappe.

Hier is Naomi se boodskap:
Hier aan die begin van 2021 lyk dit dalk of die enigste opgewondendheid vir ons Nellies die daaglikse koorsmetings gaan wees, maar min weet ons wat die jaar inhou.

Daar word dikwels gesê dat die lewe met ‘n interessante reis vergelyk kan word. Soos ‘n reis bestaan die lewe ook uit onvoorsiene gebeure, hoogtepunte en laagtepunte… maar ook geleenthede. Ons moet nuwe roetes inslaan en aanpas by die nuwe ritmes tussen die bourommel van die Covid-pandemie.

Dit is my wens dat ons hierdie jaar Nellies sal wees met hope morele krag. Morele krag is om ‘n aktiewe besluit te neem, om ‘n persoon te wees wat nie opgee nie.

Jim Rhon het gesê: “Laat ander klein lewens leef, maar nie jy nie. Laat ander oor klein goedjies stry, maar nie jy nie. Laat ander hulle toekoms in iemand anders se hande plaas, maar nie jy nie.” Dit gaan meer as ooit nodig wees, om die Lig wat die Woord ons gee, te gebruik op die pad wat effe duister voor ons uitstrek. “The presence of the problem doesn’t mean the absence of God.”

Graad 8’s, hierdie skool het die potensiaal om jou te verander en ontwikkel om die beste JY te word, wat diep spore in die wêreld sal trap. Hierdie is ‘n skool vir ieder en elk en waar jou karakter gebou gaan word. Om ‘n ware Nellie te wees verg integriteit en harde werk, maar ook baie gees en ware vriendskappe. Vertrou die seniors, BK en personeel, want ons het ook in julle skoene begin. Sommige van ons se graad 8-hempies is miskien nou bietjie klein, maar ons wysheid is groter.

Matrieks, ons het een skooljaar oor om deel van hierdie kenmerkende gees, uitnemendheid en Nellie-guts te wees. ‘n Jaar vol pret en lisensies en matriekafskeid én eksamens lê voor. Kom ons maak ‘n verskil.

11 Januarie 2017 het ons met knie-lengte rokke en styf gekamde kuiwe hier aangekom. Hegte vriendskappe is gevorm, saam met vele trofeë, trane en toere. Ons het 4 jaar lank juffrou Kriekie se geesvangpryse probeer wen en vinnig geleer hoe om pouse lassies te maak.

Nellies… Sterkte! Pak uitdagings aan en moenie ophou droom nie. Hierdie jaar is ‘n nuwe geleentheid vir jou om rigting aan jou lewe te gee. Gryp dit met passie aan en geniet elke oomblik.

Tags:
, , ,