WWOW!

WWOW!

Al die voornemende graad 8-leerders van Hoërskool Nelspruit is verlede jaar genooi om op Donderdag 11 Januarie 2024 die “Woeker-met-Wiskunde-Oorbruggingswerkswinkel” (WWOW) by te woon. Me. Adele Strauss en haar 15 mentors (graad 11 en 12) het die 126 graad 8’s wat geregistreer het, verwelkom in die skoolsaal. Daar was groot opgewondenheid, maar ook ‘n bietjie onsekerheid en selfs ‘n bietjie vrees vir hierdie Wiskundewerkswinkel.

Baie gou het die nuwelinge besef dat wiskunde prettig en lekker kan wees. Basiese, reeds bekende konsepte is op ‘n verstaanbare en prettige manier aan hulle verduidelik. Daar is stories vertel, rympies geleer, speletjies gespeel, en selfs spreekkore gehou met die plus- en minusreëls. Die oorbrugging van graad 7 na graad 8 is lankal deel van Hoërskool Nelspruit se plan om die wiskunde-uitdagings so vroeg as moontlik aan te spreek.

Tannie Natasja Gerber (NHS Diensbestuurder) het gesorg vir heerlike versnaperinge en middagete. Daartussen deur is ysies en lekkers uitgedeel om almal se energievlakke hoog te hou. Teen die einde van die dag was hulle oortuig dat elkeen van hulle slimmer is as wat hulle dink, dapper is soos leeus, vrek oulik is én wiskunde kan doen.