o/16 rugbyspan wen Virsekerbeker Plaat-afdeling

o/16 rugbyspan wen Virsekerbeker Plaat-afdeling

Hierdie rugbyseisoen is een wat mnr. Chris Mans, mnr. Dian Boshoff en die o/16 rugbyspan lank gaan onthou. Die span het hierdie jaar net een doelwit voor oë gehad en dit was om die Virsekerbeker 2019 seëvierend hoog te hou. Dit het baie harde werk en ure se oefening geëis van die spelers. Mnr. Mans sê dit was absoluut ‘n spanpoging van die A-en B-spanne wat uiteindelik van albei spanne liga-wenners gemaak het.

Die o/16A-rugbyspan het sewe wedstryde tydens die Virsekerbeker plaatafdeling gespeel waarvan hulle net een wedstryd, die wedstryd teen Marais Viljoen met 19-16 verloor het. Die uitslae van die wedstryde is soos volg:

Wen Eldoraigne 73-0
Wen Kemptonpark 47-7
Verloor Marais Viljoen 19-16
Wen Montana 20-5
Wen Rustenburg 16-7
Wen Ben Vorster 62-10
Wen Zwartkop 27-12

Na hierdie wedstryde het die span kwalifiseer om in die semifinaal teen Rustenburg te speel en hulle wen 20-14. Tydens die voorbereiding vir die groot finaal het die span ‘n wedstrydplan uitgewerk.
“Ons plan wat ons gehad het teen Zwartkop is net so deur die seuns uitgevoer en dit was die verskil tussen die twee spanne,” sê mnr. Mans.

Die finaal het Saterdag, 17 Augustus by Hoërskool Marais Viljoen in Alberton plaasgevind. Ten spyte van die bietjie senuwees wat gepla het op die wedstryddag was die seuns van die begin van die wedstryd op die aanval
Christiaan Gates het met sy deeglike skopvernuf die telbord aan die rol gehad. Hy het ‘n doelskop, strafskop en ‘n drie vir sy span ingepalm. Henne de Beer en Ewan Niewoudt het elk ook drieë aangeteken. “Wen is nie alles nie, dis die enigste en dit bly maar lekker. Wat ‘n vooreg om met die seuns te kon werk!” sê mnr. Chris Mans.

Daar was vele hoogtepunte hierdie rugbyseisoen waarvan die een definitief die toer na die Kaap was. Hier het die span ook al drie hulle wedstryde gewen. “Dit het die fondament vir die seisoen gelê en ons as afrigters en die spelers gedruk om net nog harder te werk!” sê mnr. Dian Boshoff. Die wedstryd wat hulle die meeste opdraande gegee het, was die vriendskaplike een teen HTS Middelburg. Dit was ‘n titaniese stryd tussen die twee spanne van die begin tot die einde van die wedstryd. In die laaste 5 minute het NHS net bietjie momentum verloor en het HTS Middelburg die stryd gewen.

“Dit was vir my wonderlik om saam met Dian Boshoff en Jaco van der Merwe te werk, hulle is albei goeie en entoesiastiese afrigters,” sê mnr. Mans.

“Dit was regtig vir my as jong afrigter ‘n voorreg om saam met mnr. Mans te kon afrig! Om uit al sy ervaring te leer en sy hulp en raad te kry waar ek dit benodig het, het van 2019 se rugbyseisoen ‘n wonderlike leerervaring gemaak. As jong afrigter het ek die eerste keer besef wat dit beteken om regtig ‘n afrigter te wees en hoe jy jou hart en siel saam met die kinders daar op die veld los,” sê mnr. Dian Boshoff.

NHS is baie trots op die span se uitstekende prestasie en wil dan ook graag vir elke ouer, toeskouer, borg en afrigter bedank vir die seisoen se ondersteuning.