NHS se atlete blink uit by ASA-kampioenskappe in Kaapstad

NHS se atlete blink uit by ASA-kampioenskappe in Kaapstad

Nadat drie Nellies met vierdeplekke net-net nie daarin kon slaag om ‘n medalje by vanjaar se ASA SA’s te wen nie, het die wiel gedraai en TWEE van hulle spanmaats keer huis toe met ‘n spoggerige brons medalje elk! Die 2025-byeenkoms wat in die pragtige Groenpunt-stadion plaasgevind het, het vir ongelooflike atletiekprestasies gesorg – en NHS was deel van die opwinding en vreugde!

Zoë Cilliers (m.18) het sommer op die eerste van die drie dae, onteenseglik bewys dat sy daar was om die naellope met mening aan te pak. In die eerste uitdun van die 100m, word sy die Laeveld se vinnigste meisie sedert Barberton se Marna (de Villiers) vd Burgh, wat meer as 40 jaar gelede, die 100m in onder 12 sekondes afgeblits het. Zoë se 11.94 (937 ASA-punte werd) is ‘n blinknuwe Nellie-rekord en maak haar die eerste NHS-meisie in die skool se geskiedenis, wat deur die 12 sek. grens kon breek! Sy het in die halfeind ‘n vinnige 12.10 gehardloop, maar kon nie onder die eerstes in die finaal eindig nie. Dit het haar nog meer vasberade gemaak! Sy nael die eerste uitdun van die 200m in 25.13 (906), en verbeter in die halfeind na 24.98 (920). In die eindronde was alle fokus op die Vrystaat se Rumé Burger (wat wel die titel ingepalm het), maar Zoë het ware Nellie-‘guts’ gewys deur in ‘n uitstekende 24.72 (928) brons te verower. As sy hierop by die SA Skole-kampioenskappe kan verbeter, is Rhodé Nel se rekord van 24.70 binne bereik.

Owen Ngwenya het in driesprong (s.18) die kroon op ‘n puik seisoen gespan, toe hy 14,16m (818) ver in die sandput geland het – goed genoeg om ook aan hom, brons te besorg. Roedi Niemand se 2009-rekord van 14,34m het vanjaar maar op wankelrige bene gestaan, met Owen wat verskeie kere verder as 14m gehaal het. Die rekord vir s.19 is 14,48m – ‘n afstand wat gewis binne Owen se bereik is in die 2026-seisoen.

Al het sy nie ‘n podiumplek verower nie, sal die naam van Shebba Sithole (m.20) voortaan as rekordhouer as NHS se beste in die 72-jarige bestaan van die skool, in die 800m, staan. Sy teken ‘n pragtige 2:15.28 aan, en verpletter daarmee Elaine Smith se 2:19.81 wat sedert 2010 die rekord in  hierdie item was. Welgedaan, Shebba!

Om terug te keer na daardie baie goeie, maar tog frustrerende, vierdeplekke: Zané Nel het met ‘n 37,73m (873) vir die eindronde in skyfwerp gekwalifiseer, en toe in die finaal die krane behoorlik oopgedraai om die skyf ‘n volle 40,88m (905) deur die Wes-Kaapse lug te laat trek. Sy is tans die enigste meisie in Mpumalanga wat vanjaar hierdie prestasie (m.18, verder as 40m) kon behaal. Sy het ook goed in die gewigstoot vertoon, met ‘n stewige 13,28m (868).

Menzi Shiba (s.18) het op dag een ‘n goeie 14.21 (896) in die korthekkies gehaal, maar het die tweede dag veel sterker vertoon, toe hy tweede in sy uitdun van die 400m hekkies was. Sy tyd van 53.82 (881) het hom ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n medalje, gemaak. Saterdag se koeler, klam weer het egter sy tol geëeis, en Menzi het met ‘n 54.83 (831) net-net ‘n medalje gemis.

Mia du Preez (m.15) het by vanjaar se interhuis met ‘n puik 13,48m (901) haar seisoen ingelui, en presies hierdie afstand, was goed genoeg om algeheel vierde in die RSA, in Kaapstad te eindig! Dit het nie altyd te goed deur die seisoen gegaan nie, maar Mia het die stang vasgebyt toe dit saak gemaak het. Haar prestasie is ook ‘n bewys van die hoë standaard wat NHS se atlete, vanaf interhuis tot die SA’s, handhaaf.

Nog ‘n paar uitslae wat die oog gevang het:
Grant Venter (s.16): 100m hekkies – 13.93 (842); en 300m hekkies – 40.30
Marike Wasserman (m.16): 90m hekkies – 14.23 (855); en 300m hekkies – 47.88 (825)
Chenade Botma (m.16): 100m – 12.70 (917); en 200m – 26.37 (865)
Anele Mkhonto (m.20): 800m – 1:55.47
Ethan Green (s.18): 800m – 1:55.81
Leney Maree (m.15): 1500m – 4:49.90 (797)
Erenst Zeelie (s.16): spiesgooi – 48,82m
Jordan Pretorius (m.20): verspring – 6,53m

Artikel: Kobus de Wet