NHS se skitterblink paralimpiese atleet verskuif grense

NHS se skitterblink paralimpiese atleet verskuif grense

Die naam Juané le Roux, ‘n matriekleerling van Hoërskool Nelspruit, is reeds oral bekend – van provinsiale tot nasionale, tot wêreldatletiek. Hierdie talentvolle meisie, beter bekend as Lulu, is die houer van vele paralimpiese rekords in worpe en het haar skool vir verskeie jare ook in ‘gewone’ atletiek tot op provinsiale vlak verteenwoordig.

Die afgelope naweek het Lulu waarlik die kroon op ‘n baie suksesvolle skoolloopbaan as veldatleet gespan, toe sy by die SASAPD nasionale kampioenskappe wat in Gqeberha plaasgevind het, uitsonderlik presteer het. Lulu neem volgens klassifikasie in die F46-afdeling deel, en het nie alleen al DRIE worpe vir meisies 20 gewen nie, maar sy het as Mpumalanga-verteenwoordiger ‘n blinknuwe Afrika- rekord in skyfwerp opgestel. Haar puik afstand van 34,52m is dan die nuwe SA, sowel as kontinentale rekord – welgedaan! Lulu palm ook nasionale titels in spiesgooi (34,72m) en gewigstoot (9,92m) in, wat werklik ‘n hoogs uitsonderlike prestasie is.

Lulu het haar land reeds op internasionale vlak, oorsee verteenwoordig. Met sulke pragtige prestasies reeds op juniorvlak, gaan die naam Juané le Roux, vir seker nog baie in die toekoms gehoor word. NHS is nie biétjie trots op hierdie uithaler-atleet, wat nie toelaat dat ‘n fisiese gestremdheid haar drome kortwiek nie!